SportSport

Fochies hou steeds naam hoog

Hoërskool Fochville se eerste span is steeds onoorwonne in die Leeus se medium skole liga.

Hoërskool Fochville se eerste span is steeds onoorwonne in die Leeus se medium skole liga.

Fochville se rugbyspanne het die afgelope week as deel van dié liga in twee wedstryde gespeel. Die eerste liga is op Woensdag 20 Mei teen Leeuwenhof, ’n bekende privaatskool van Bedfordview, gespeel. Die wedstryde is op Fochies se tuisvelde beslis.

Die dag het goed begin toe die o/14-span, wat afgerig word deur mnre. Ryno Heever en Jurgens Bence, die eerste wedstryd maklik met 31 punte teen 0 gewen het. Die o/15 span van Fochies, wat gebuk gaan onder ’n beserings-spook, het egter hul eerste ligawedstryd in twee jaar verloor toe die gedugte span van Leeuwenhof hulle met ’n telling van 28 – 20 geklop het.

In die o/16 wedstryd het die puntetelling wipplank gery en die spanne het goed teen mekaar opgeweeg. In die laaste beweging van die dag het Leeuwenhof egter met ’n strafskop reg voor die pale geslaag en die wedstryd met 29 punte teen Fochies se 26 gewen.

Die eerste span van Fochville het in die hoofwedstryd van die dag vinnig gewys wat in hulle steek en 43 punte in die eerste helfte ingehardloop sonder dat hul teenstaanders enige punte kon aanteken. Die span se afrigter het tydens die wedstryd geleentheid gehad om van die “groot kanonne” op die veld af te haal en op sy plaasvervangerbank te gebruik. Die finale telling in die wedstryd was 43-17.

Mnr. Bobby McLeod, Fochies se hoof-afrigter en sportorganiseerder het na die wedstryd sy span gelukgewens omdat hulle die eerste rondte van die liga onoorwonne kon deurgaan. Die spanne het nie veel tyd gehad om te rus nie, aangesien hulle op Saterdag, 23 Mei, weer in die tweede rondte van die liga teen die gewilde sportskool Queens High School van Johannesburg op die veld moes draf.

Al die spanne van die “Blou golf” het dit reggekry om hulle wedstryde teen Queens te wen. Die o/14’s het 43 – 5 gewen terwyl die o/15’s hul opponente met ‘n telling van 12 – 0 getroef het. Die o/16’s het 12 – 10 gewen, terwyl Fochies se Eerstes met ‘n telling van 36 – 13 oor hul opponente geloop het. Queens se tweede span het punte gestuur.
Volgens McLeod sien hy baie uit na die res van die tweede helfte van die liga.

Hy het daarop gewys dat die volgende drie weke klipharde rugby gaan oplewer en dat die Fochies ’n goeie kans het dat al sy spanne die in die uitklopfase van die liga kan speel.

Fochies se rugbyspanne kom op Saterdag, 30 Mei teen die gedugte spanne van Trinity op die velde van Trinity te staan. Intussen het Fochies se hokkiespanne ook baie goed gevaar in hul wedstryde wat op 21 Mei teen Hoërskool Riebeeckrand beslis is. Die o/14’s het 0 – 0 gelykop gespeel, terwyl die o/15’s en o/16’s onderskeidelik 0 – 1 en 0 – 3 verloor het. Die Tweedes en Eerstes het met tellings van onderskeidelik 2 – 0 en 1 – 0 gewen.

Hoërskool Fochville se netbalspanne het ook op 21 Mei teen Hoërskool Bastion te staan gekom en vyf van die dag se wedstryde gewen. Die o/14 A’s en B’s het met tellings van onderskeidelik 12 – 13 en 8 – 14 verloor terwyl die o/15 A’s en B’s met tellings van onderskeidelik 23-1 en 13 – 5 gewen het. Die o/16 A’s het 16-19 verloor, die o/16 B’s het 12 – 7 gewen en die Tweedes en Eerstes het onderskeidelik 25 – 4 en 25 – 19 gewen.

Related Articles

Back to top button