SportSport

Shanté maak golwe in VSA

VANDERBIJLPARK. – Met tonne deursettingsvermoë en ‘n onkreukbare geloof in haarself het die beeldskone Vaaldriehoeker, Shanté Bukes, onlangs in Amerika daarin geslaag om ‘n derde plek in die uitmergelende Mark Hahn 300 Gedenk Jetski-wedren te behaal. Die 19-jarige, B.Com.-student en sportambassadeur van die Vaalkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU Vaal), is die toonbeeld van ambisie en …

VANDERBIJLPARK. – Met tonne deursettingsvermoë en ‘n onkreukbare geloof in haarself het die beeldskone Vaaldriehoeker, Shanté Bukes, onlangs in Amerika daarin geslaag om ‘n derde plek in die uitmergelende Mark Hahn 300 Gedenk Jetski-wedren te behaal.
Die 19-jarige, B.Com.-student en sportambassadeur van die Vaalkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU Vaal), is die toonbeeld van ambisie en volharding.
Dié wedren wat oor 300 myl strek is sinoniem met klippe kou, slegte weeromstandighede en uithouvermoë.
Shanté en haar spanmaat Dustin Motzouris, ‘n veelmalige Wêreldkampioen, het in die hartjie van die winter Lake Havasu – wat op die grens tussen Kalifornië en Arizona geleë is, getem.
Shanté wat in eie reg ‘n voormalige wêreldkampioen is, het om die beurt met Motzouris hul Yamaha FX Cruiser luidkeels in die Manufactured Runabout Stock Class laat brul.
Volgens Bukes het ‘n reënbui en golwe van tot 5 m hoog sake verder bemoeilik.
“Ek het nog nooit so hard in my lewe gebid soos daardie laaste 12 myl nie. Die golwe het my bril se lense uitgeslaan en ek kon skaars sien waar om te gaan, maar ek het vasgebyt,” vertel sy.Volgens haar het sy ‘n sug van verligting geslaak toe sy na 4 ure en 25 minute die wenvlag sien wapper.
“Dit was vir my ‘n groot voorreg om my ouers in Suid-Afrika van my groot prestasie te vertel. Sonder die ondersteuning van die Here, my ouers en borge: Kommander Industries, Rockstar Energy, NWU Vaal, Villon Clothing, Burn Industries, Carl Becham en DJvanR sou ek dit nie kon vermag het nie,” sê sy.
Volgens haar keer sy in Junie weer terug na Amerika om aan die nasionale byeenkoms in Reno, Arizona deel te neem. Intussen sit sy skouer aan die wiel met ontwerpe vir haar wetsuit-reeks, in samewerking met Burn Industries. “Ek is baie geseënd om my droom uit te leef.”

Shantè Bukes, Jet Ski
Shantè Bukes

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button