SportSport

Rice is Kok se geheime bestanddeel

MEYERTON. – Dis mos hoe jy ’n 45ste bestaansjaar vier! Die Meyerton-krieketklub het Sondag sy 45ste bestaansjaar in styl gevier toe sy klubkampioenspan van 2 000 die Goue Oues-span met 14 lopies in ‘n 20/20-wedstryd geklop het. Die Gerhard van Rensburg Elftal het in die “voorwedstryd” die Dirk Bruwer Elftal met agt paaltjies geklop. Hoewel …

MEYERTON. – Dis mos hoe jy ’n 45ste bestaansjaar vier!
Die Meyerton-krieketklub het Sondag sy 45ste bestaansjaar in styl gevier toe sy klubkampioenspan van 2 000 die Goue Oues-span met 14 lopies in ‘n 20/20-wedstryd geklop het.
Die Gerhard van Rensburg Elftal het in die “voorwedstryd” die Dirk Bruwer Elftal met agt paaltjies geklop. Hoewel Vadertyd ongetwyfeld vir meeste van die sterflinge aangestap het, het klas meer as genoeg opgemaak vir diegene wat ‘n tree of twee verloor het.
Die feesvieringe was ’n reuse-sukses met honderde mense wat die skouspel deur die loop van die dag bygewoon het.
Daar word gesê te veel kokke bederf die kos, maar daar word niks van ‘n krieketwedstryd gesê nie. Die Kokke waarna hier verwys word het niks met spyseniering te doen nie.
Die Kok-broers Jaco en Pierre is welbekend in Vaaldriehoekse sportkringe. Oubout Pierre is al 21 jaar die voorsitter van die Meyerton-krieketklub en Jaco is een van die suksesvolste hoërskole rugby-afrigters in die land. Dan praat mens nie eers van hulle gloriedae op die rugby -en krieketveld nie.
Sondag het dié Kokke die kollig gespeel met ses van die familie Jaco, Pierre, Morné, JP en Alex wat in een stadium almal op die speelveld was.
Maar die familie se betrokkenheid stop nie daar nie Pierre se vrou Jianni het as tellinghouer gesorg dat die geskiedkundige wedstryde in die annale opgeteken sal bly.
Pierre se betrokkenheid by die klub strek al meer as drie dekades en Sondag tydens die reünie is daar besluit dat die klub se krieketveld voortaan as die Pierre Kok Oval sal bekendstaan.
“Dit is ’n groot eer. Ek weet nie wat om te sê nie,” het Pierre oor die groot eer wat hom te beurt val, gesê.
Tussendeur al die opwinding het nog ’n krieketlegende Sondag in die Vaaldriehoek kom kuier. Die voormalige Protea-kaptein, Clive Rice, het as gasspreker opgetree. Ander krieket-legendes wat die dag bygewoon het, was: Ray Schoeman, Barry Matkins, Anton du Preez, Mike Martin, Corrie Pypers, Derick Stevens, Johan Penning, Christo Lombard, Piet Botha (oud-speler en Warrior-afrigter) en Cliffie Wright (oud-skeidsregter).
“Die dag was ’n groot sukses. Daar was groot belangstelling van die spelers en toeskouers. Ons beoog om dit ’n jaarlikse instelling te maak,” het Kok gesê.

n Lewende legende in aksie. Pierre Kok, voorsitter van die Meyerton-krieketklub, maak gereed om ’n aflewering grenstou toe te stuur. Die klub se velde sal voortaan as die Pierre Kok Oval bekendstaan om sy jare diens by die klub te gedenk.
n Lewende legende in aksie. Pierre Kok, voorsitter van die Meyerton-krieketklub, maak gereed om ’n aflewering grenstou toe te stuur. Die klub se velde sal voortaan as die Pierre Kok Oval bekendstaan om sy jare diens by die klub te gedenk.

Related Articles

Back to top button