Schools

DIT GAAN GOED BY HOËRSKOOL PARYS – KOM VIND VIR USELF UIT!

  Die laaste paar maande was vir ons almal in die Parys Gemeenskap ‘n moeilike en deurmekaar tyd met die Covid-19 pandemie wat onverwags ons lewens omvergewerp het. Maar ons gló dat dit ook verby sal gaan en dat ons as gemeenskap hierna sterker sal wees. As skool is die impak ook gevoel, maar ons …

 

Die laaste paar maande was vir ons almal in die Parys Gemeenskap ‘n moeilike en deurmekaar tyd met die Covid-19 pandemie wat onverwags ons lewens omvergewerp het.

Maar ons gló dat dit ook verby sal gaan en dat ons as gemeenskap hierna sterker sal wees.

As skool is die impak ook gevoel, maar ons is dankbaar vir ‘n toegewyde bestuurspan en personeel wat die situasie met deernis en beplanning baie goed hanteer het.

Hoërskool Parys is die Parys gemeenskap se skool en daarom is dit vir ons belangrik om seker te maak die Parys gemeenskap weet hoe dit met ons skool gaan. Die skool en skoolkoshuis het die Covid-uitdagings baie suksesvol aangespreek vanaf sanitasie, personeelaanwending (onderwys en nie-onderwys), akademie/kurrikulum en aanlyn-ondersteuning – leerders van graad 8 tot 12 is dus in baie goeie hande.

By Parys Hoërskool streef ons daarna om kwaliteit onderrig in ‘n gedissiplineerde en vriendelike omgewing aan te bied. Die vakkombinasies (vakpakette) en vakke wat veral vanaf graad 10 tot 12 aangebied word, bied vir elke leerling ‘n geleentheid om ‘n baie groot verskeidenheid van studierigtings by tersiêre instellings te gaan studeer.

Die Hoërskool Parys leerling wat kwalifiseer vir universiteitstoelating is gesog by al die SA universiteite. Daar is tans bv. 2 oudleerlinge wat hul mediese studies doen aan die Mediese Skool van UFS, terwyl verskeie ander oudleerlinge besig is met tersiêre studies aan verskeie tersiêre inrigtings en hulle bekwaam as aptekers, geoktrooieerde rekenmeesters, risikobestuurders, chiropraktisyns, ingenieurswese ens.

Daar is geen sport-, kultuur- of akademiese rede waarom enige Parys kind die grense van die dorp hoef te verlaat om hom/haar vir skoolonderrig beter voor te berei vir ‘n beroepskeuse nie. Ons beskik oor n goed opgeleide personeelkorps waarop ons trots is. Hierdie personeel trap diep spore in die graad 12 NSS-eksamen waar hulle rolle wissel van ‘n nasionale eksaminator, interne moderator, adjunkhoofmerker, senior merkers tot nasieners.

Die bestuur en beheer van die skool poog om altyd beskikbaar te wees en om ons dienste aan te bied en by te dra tot die skoolgemeenskap se voordeel en belang. Besoek gerus die skool se webblad en gaan "like" ons video daar. U moet in gedagte hou dat, as ons skole sterk is, ons gemeenskap en dorp sterk is! Indien u gebombardeer word met onbevestigde gerugte, bejeën dit met omsigtigheid en moenie n oningeligte besluit op grond van wanpersepsies neem nie.

Ons wil daarom bestaande Hoërskool Parys ouers, asook enige voornemende ouers, wat hul kind by Hoërskool Parys wil inskryf, hartlik uitnooi om self met die skool te kom praat as enigiets vir u onduidelik is óf as u klarigheid oor ‘n saak benodig.

Ons skool se deure het nog altyd, en sal steeds in die toekoms vir u oopstaan. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Oktober en meer inligting kan by die skool bekom word – Tel: 056 8113472.

As gemeenskap kan elkeen bydra tot die sukses van ons skool. Al het u nie meer ‘n kind in die skool nie, wil ons n beroep op u doen om n lojale ondersteuner te wees by ons sport- en kultuur- geleenthede. Dit beteken vir ons kinders baie. Hoërskool Parys is die gemeenskap se skool en daarom moet ons as gemeenskap ten alle koste ons skool beskerm. Ons wil sover gaan as om te sê dat ons as Parys gemeenskap jaloers moet wees op Ons Skool.

Ons is nie perfek nie – géén skool in Suid-Afrika is perfek nie – en ons sal nooit almal tevrede kan stel nie.

By Hoërskool Parys kry u kind die geleentheid om sy menswees op verskillende terreine maksimaal te ontwikkel om hom voor te berei vir toekomstige uitdagings in die grootmenswêreld. ‘n Besige kind wat in totaliteit ontwikkel is, se kans op sukses aan tersiêre inrigtings is baie groter, want sy blootstelling op skool was soveel wyer. U kind is só vatbaar vir invloede en groepsdruk, waar is ‘n beter plek om hom te beskerm, as in die veiligheid van u ouerhuis?

Dit is belangrik dat ons almal handevat, want die welvaart van ons dorp en ons sakegemeenskap is interaktief – daarom is dit noodsaaklik dat elke kind wat in Parys woon van Hoërskool Parys se dienste gebruik maak. Baie dankie vir elke ouer wat steeds ons spogskool ondersteun en ook diegene wat getrou bly skoolfonds betaal.

Ons spreek ons dank teenoor u uit met groot waardering. As ons skole in ons pragtige dorp sterk is, is ons dorp sterk! Ondersteun Hoërskool Parys kom ons maak Ons Skool, die beste skool. Moenie net vra wat kan die skool my bied nie, kom ons vra wat kan ek en my kind die skool en die gemeenskap bied.

Beheerliggaam Hoërskool Parys

Related Articles

Back to top button