Schools

Vakkeuses: Doen jou navorsing betyds en hou jou opsies oop

Vakkeuses: Doen jou navorsing betyds en hou jou opsies oop

Vir elke graad nege-leerder lê die besluit van vakkeuses aan die einde van jou graad nege-jaar soos die spreekwoordelike berg voor jou.
Die vakkeuses wat jy maak, het ’n invloed op jou toekomspad en juis daarom is dit belangrik dat, hoewel jy meestal nog onseker is oor die keuse van ’n beroep, jy immers sal weet wat jou belangstellingsveld is, en om jou opsies oop te hou.
Gebruik jou tyd oordeelkundig om navorsing te doen oor moontlike belangstellings en beroepsvelde, en die vereistes wat gestel word vir tersiêre studie in daardie beroepsveld.
Hoewel daar geleentheid is om vakke te verander nadat jy jou vakkeuse gemaak het, is die belangrikste raad om soveel moontlik inligting te kry voordat jy jou keuse maak. Dit spaar baie verdriet, teleurstelling en ure se inhaal op vakinhoud wat jy gemis het deur verkeerde vakkeuses.
Elette van den Berg, bedryfsielkundige by Studente Voorligting- en Ontwikkeling, verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het die volgende kundige raad:
Ek kan hier algemene riglyne deurgee, maar noem wel dat daar nie ‘n oplossing is wat elkeen pas nie. Dit is gegrond op aanleg en belangstelling, en die kombinasie daarvan, sowel as die leerling se skoolprestasie en vakke wat die skool bied.
Daar is soms meer as een manier om by dieselfde einddoel uit te kom. Met ander woorde, as een deur toegaan, is daar moontlik ‘n ander deur wat oop is, en weer met tyd en deur middel van ‘n ander roete weer die toe deur kan oopmaak.
Juis daarom is vakkeuses uniek tot die individu en omstandighede. Universiteite en die regering het sekere vereistes, en is die moontlike belangstellingsrigtings ook aanduidend van vakke wat vereistes is. Oor die algemeen is die aanbeveling dat indien die leerder baie belangstel in erkende vakgroep vakke, dat slegs een daaruit gekies word, en die ander vyf vakke almal uit ’n aangewese vakgroep. In die nabye toekoms sal die vakgroepe weer verskil, maar dit is steeds raadsaam om universiteite te raadpleeg en te kyk hoe die veranderinge toegepas word.
Belangstelling in:
Besigheid/Syfers: Wiskunde (minimum 50%) sterk aanbevole. Indien die leerder 70% en hoër vir Wiskundige Geletterdheid behaal, dan sal daar weer ‘n deur oopgaan met verlengde kursusse, wat toelaat dat die wiskunde oorbrug word tydens tersiêre studies by sommige universiteite.
Ingenieurswese: Wiskunde en Fisiese Wetenskap (minimum 70%) vereiste.
Mediese rigtings: Wiskunde, Fisiese Wetenskap en Lewenswetenskap (aanbevole/vereistes). Sommige universiteite sal lewenswetenskap aanvaar in plaas van Fisiese Wetenskap.
Onderwys/Tale: Mik om minimum 60% te behaal in beide tale
Meriete afslag en beurse
Die belangrikste om te onthou is dat daar altyd aansoek gedoen moet word vir ‘n beurs, terselfdertyd as wat die universiteitsaansoek gedoen word. Universiteite verskil, maar beurse word oor die algemeen gebied vir akademiese prestasie, sport, kuns en kultuur, fisiese gestremdheid en/of weeskinders.
Hierdie inligting word vasgevang op die universiteit se webtuistes.
By NWU is daar drie meriete akademiese beurse beskikbaar vir eerstejaar applikante, met ‘n persentasie van 75%-79% korting van 25% op klasgelde; met ‘n persentasie 80-84% korting van 75% op klasgelde; met ‘n persentasie van 85%-100% korting van 100% op klasgelde.
Psigometriese toetse
Psigometriese toetse tydens graad 8 of voor/tydens Julie in graad nege, bied baie goeie riglyne, mits aanleg en belangstelling in ag geneem word.
Soms word slegs aanlegtoetse afgeneem en advies gegee, maar net omdat jy baie goed is in iets, beteken dit nie jy hou baie daarvan nie. Hierdie toetse help om ‘n breë oorsig van belangstelling aan te dui sodat die vakke wat gekies word, moontlike studierigtings ondersteun en jy kan aansoek doen vir daardie rigting. Dit help ook vir navorsing om ‘n beter idee te kry van verskillende beroepe om te oorweeg.
So weet leerders wat die vereistes is, en dien dit as motivering om hard te werk.
Universiteite se Studentevoorligting dienste en privaat praktyke bied gewoonlik hierdie dienste teen ‘n fooi. Die antwoorde lê vasgevang in die terugvoersessie, aangesien toetsresultate net algemene riglyne bied, en die werklike interpretasie verkry word soos die leerling en ouers/voogde insette lewer en die leerder verantwoordelikheid neem vir toekomskeuses. By die NWU beloop kostes tans R900, wat die toetsing, verslag en terugvoer insluit. Vir meer inligting rondom psigometriese toetse, kontak gerus die NWU se Vanderbijlparkkampus by (016) 910 3040, of die NWU Potchefstroomkampus by (018) 299 2897.
Gratis leiding
Daar is twee belangstellingsvraelyste wat verniet beskikbaar is en kan help met moontlike studierigtings en/of verdere nalees en ondersoek in beroepe: https://www.gostudy.net/nwu of https://www.interestindex.co.za/
Advies
Toekomsbesluite is oorweldigend en ’n magdom inligting wat oorweeg moet word.
Dus het jy soms ‘n “tregter” nodig en bied professionele hulp hierdie funksie, bloot sodat mens ‘n idee kan kry van waar om te begin en hoe om voortaan te prioritiseer.
Inligting oor universiteite, studierigtings en vereiste vakke, kan deur die webtuiste of Studente Adviseurs wat skoolloopbaandae en oueraande bywoon, ingewin word, terwyl beroepsvoorligting en advies ook by professionele sielkundiges werksaam by Studente Voorligtingdienste van universiteite beskikbaar is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button