Letter

Speel volgens die reëls met verkiesingsplakkate

As die wetlike vereistes so duidelik uitgespel word, waarom word daar nie teen die skuldiges opgetree nie?

Dit verstom my dat die Nasionale Verkiesings Wet asook die Paaie Wette heeltemal verontagsaam word deur baie van die politieke partye wat aan vanjaar se verkiesing deelneem. Daar is wel van die partye wat die reëls nakom, maar ander wie se verkiesingsplakkate nie eens voldoen aan die voorskrifte vir die maksimum grootte van plakkate nie.

Dit is teen die wet om verkiesingsplakkate te verwyder of te beskadig, maar dit is ook teen die wet om verkiesingsplakkate teen verkeerstekens, kragbokse en selfs bome aan te bring. Hoe kan die munisipale bestuurder en sy amptenare toelaat dat die landswette asook verkiesingswette oortree word? Hoekom tree hulle nie op teen die kriminele optrede nie?

Moet iemand eers verongeluk of iets drasties gebeur voor hulle optree?

Dit is tog hul verpligting om die toepassing van wette en reëls te reguleer.

Die nie-nakoming van wette en regulasies is growwe verontagsaming van reëls soos die Nasionale Pad Agentskap Wet, Wet 7 van 1998 wat duidelik bepaal waar plakkate, ook vir verkiesings geplaas mag word.

Die wet sê duidelik dat dit nie teen padverkeerstekens, mure, pilare, kragbokse bome of brue vasgesit mag word nie. Boonop is die wet ook duidelik dat daar nie meer as drie plakkate op lamppale mag wees nie.

Net so belangrik is die feit dat sodra ‘n verkiesingsdatum geproklameer is, partye, hul agente en kandidate instem om hulle aan die verkiesingsgedragskode te onderwerp totdat die verkiesingsuitslae amptelik bekendgemaak is.

Partye, agente en kandidate wat die gedragskode verontagsaam, loop volgens hierdie gedragskode die risiko om gediskwalifiseer te word.

Ons as besighede in Parys doen baie om die dorp as mooi toerismedorp te bemark, maar nou ontsier van die politieke partye ons dorp. My vraag is dat as die wetlike vereistes so duidelik uitgespel word, waarom word daar nie teen die skuldiges opgetree nie?

* Gazette het navraag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gedoen oor die kwessie wat deur die briefskrywer uitgewys is. Reaksie van die OVK is nog nie met die plasing van hierdie brief ontvang nie.

Dit is intussen bevestig dat besware wel deur van die politieke partye oor die kwessie ook by Ngwathe se waarnemende munisipale bestuurder en die plaaslike OVK-kantoor ingedien is. Ngwathe het egter tans geen munisipale verkiesingsbeampte wat as skakel tussen die munisipaliteit en die Onafhanklike Verkiesingskommissie optree nie.

In ‘n soortgelyke kwessie in die Metsimaholo Munisipale gebied is die ANC gedwing om plakkate wat met spykers aan die eikebome regoor verskeie woonbuurte in Metsimholo aangebring is, te verwyder omdat munisipale verordeninge oortree is, en dit die welstand van die omgewing in gedrang gebring het.

 

Related Articles

Back to top button