BlogsOpinions

Vatlappe vir die hart

Vatlappe vir die hart

Liewe Persoon (Spesiaal vir my hartsmense)

Deur Annette Willemse Liewe Persoon (Spesiaal vir my hartsmense) Hulle sê vriende is die familie wat ‘n mens vir jouself uitkies, en ek stem rondborstig en heelhartig saam. Viva! Ek was nog altyd ‘n loner (by choice), maar die simptome en uiteinde van die koronakiem: verlies, afstand en alleenheid vang selfs die mees devoted introvert onkant. Moenie my verkeerd verstaan nie. As huishen is my straatadres steeds my gunsteling plek om te wees.

My siel skep asem as ek in my eie tuin werskaf. Ek is op my gelukkigste as ek ‘n muur met ‘n verfkwas kan bykom en ek kan vir ure op die stoep sit. Maar iets is tog anders. My hart verlang. Na plekke wat lank reeds die knie voor kakiebos en knapsekêrels moes buig. Na dierbares wat hul tentwonings vir hemelse prag en praal verruil het. Na dae lank geleë, toe familie saam kon lag. Ligter tye… Maar midde hierdie brand-in-die-keel verlange vind ek al hoe meer dat vriende na vore tree, en in die gapings van gister kom staan. Hulle neem hulle plekke in juis daar waar niks op die oomblik wil groei nie… daar waar selfbejammering nesskop, angstigheid anargie saai en alleenheid soos ‘n steeks donkie aanmekaar teen die lyndraad loop skuur. Dit laat my dink aan vatlappe.

Vatlappe of oondhandskoene soos Ma dit altyd genoem het, kom in alle shapes en sizes. Daar is fénsie vatlappe wat net vir show teen die kombuismuur hang. Daar is vatlappe wat hard werk en plek-plek al ‘n brandkol of twee het. Daar is vatlappe wat soms sukkel, en wat vir ‘n ekstra lappie of vadoek vra. Daar is ook nuwerwetse vatlappe wat nie vir vuur of vlam skrik nie.

Daar is vatlappe wat jou laat giggel en, Liewe Persoon, ek het selfs al by ‘n vlooimark ‘n paar vatlappe gesien wat uit kombers gemaak was en soos ‘n krokkodil gelyk het! My vriende is altoos soos vatlappe. Daar is BFFs, Whatsapp warriors, social media tribes, universiteitsmaters wat ek laas by ons gradeplegtigheid gesien het, maar wat part and parcel deel is van elke dag, daar is omgee-kollegas wat elke dag ‘n ekstra myl stap en kennisse wat klippe uit die pad rol. Jonk en ouer. Hier en daar. Soveel mense. Soveel genade.

Hulle vat raak. Hulle is bereid om in hitsige tye ‘n hand uit te reik en my as’t ware uit die vlamme van moedopgee te red. En ek weet, in die proses kry hulle selfs soms seer. Ek weet dat hulle ook met hul eie woelinge stoei. Hoe dit ookal sy, hulle daag op en maak ‘n verskil. Hulle is altyd daar. Betroubaar. Reg vir aksie. Beskermend. Prakties. Onlosmaaklik deel van my bestaan. Daar vir skaapboud-en-gebraaide-aartappels-dae, maar ook vir ek-het-pas-die-wors-verkool-dae en al die dae tussen in. Face it, vatlappe beleef alles… Sonder om soos ‘n Jurie Els langspeelplaat te klink, wonder ek by myself: Hoe sê ‘n mens dankie? Veral in ‘n jaar soos hierdie. ‘n Jaar van bitterheid… hartseer… onstuimigheid… verandering … verlange… siekte… dood.

Ek sal graag ook vir hulle soos ‘n vatlap wil wees. Om juis daar ‘n verskil te maak waar dinge warm raak… In die tyd waarin ons leef beteken aardse goeters nie veel nie, maar hartsdinge wel. Kom ons probeer om vir mekaar vatlappe te wees. En vir dié van julle wat my hart in julle vatlappe vashou: dankie en ‘n gebed dat die genade en liefde wat julle elke dag betoon in ontelbare maat na julle sal terugkeer.

*Annette Willemse is ’n rubriekskrywer en oudkollega wat jou tone sal laat krul van lekker vir haar humoristiese raaksê rubrieke in haar Blog, Liewe Persoon.  

   

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button