BlogsOpinions

’n Salige (ge)snork!

’n Salige (ge)snork!

Liewe Persoon, Hulle sê elke diertjie het sy plesiertjie, en dit is dan ook inderdaad so.

En nee, ek praat nou nie van guitighede soos aaptwak rook of dop-met-skop in die buitekamer brou nie. Ek praat van dinge wat jou siel voed – hoe eienaardig dit ook al vir ander mag wees. Miskien kyk jy elke Sondag ‘n re-run van Het van Verlangekraal, dalk is jy verknog aan gebreide bedsokkies of, kan jy nie genoeg van die Kardashians se streke kry nie, en verslind jy graag ‘n broodjie met sardientjies en grondboontjiebotter. Ek judge nie.

In ons geledere is Pilletjie byvoorbeeld geheel en al verslaaf aan skryfies. Dis nou penne, koukies, paperclips en diesmeer. Ek kan nie verby ‘n geel plastiek-eend loop nie al probeer ek hoe hard. Die Juffrou put weer ‘n onaardige hoeveelheid genot uit donkerbrille. I kid you not. Hierdie donker-vier-oog plesiertjie van haar kom van ons kindertyd af. Jy sien, almal in ons gesin behalwe die Juffrou het toentertyd ‘n bril gedra. Dit was daarom ‘n tradisie dat elkeen wat ‘n nuwe bril kry, die oue se glase moes uithaal en vir die Juffrou gee om te dra (wat sy met oorgawe en trots gedoen het). Die laaste ruk is daar egter iets anders wat my siel streel. Iets wat vir baie ander mense tot raserny kan dryf, getroude paartjies na gastekamers lei en waarvoor jy selfs mediese behandeling kan kry. Ek praat van snork, natuurlik. Met dié erkentenis kan ek sowaar hoor hoe jy na jou asem snak en in my geestesoog sien ek hoe jy jou kop in ongeloof skud.

Laat ek verduidelik. Eerstens. Ek praat nie van my eie gesnork nie, want ek is nie ‘n snorker nie. Tweedens: jy, wat daarvan hou om met sensoriese slym – ja daardie met die blinkertjies in, te speel, is nie in ‘n posisie om te oordeel nie (sies vir jou!). Ek praat van die salige gesnork van Steve en Fiela. Dit klink snags behoorlik asof daar twee Lister-enjins in die kamer hardloop, soos dié twee hondjies (#Pekingese) snork. Hulle wissel mekaar af, amper soos in ‘n duet en ek kom agter dat hoe meer hulle snork, hoe vinniger raak ek aan die slaap. Dis so asof hulle gesnork vir my ‘n aanduiding is van hul tevredenheid: hulle is nie bang nie, hulle magies is vol en hulle slaap lekker warm in die kooi.

Dit sus dan ook vir my, wat op die rype ouderdom van 40 plus nog na ‘n episode van Criminal Minds met die bedliggie aan moet slaap. “Dis oor hulle neuse so plat is dat hulle so snork,” sê die Juffrou, en alhoewel ek dit weet, verkies ek om nie dié salige gesnork aan fisiologie toe te skryf nie.

En ek kan mos maar, want elke diertjie het sy plesiertjie!    

   

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button