BlogsOpinions

Op ‘n ligter trant …. Honde en hul geite

Net een vir die hondjies

Dit was Paasnaweek 2016. Word ek die oggend vlak voor 5 wakker met ‘n onaardse lawaai. My ‘n rukkie geneem om te besef dis ‘n jong haantjie wat probeer kraai vanuit die bure se erf. ‘n Paar maal!

Baba Bessie, die pekinees, is by die deur uit en blaf die res van die buurt wakker. Teen die tyd wat ons haar weer rustig het, maak ek en Pa maar koffie. Daar sit ons, wawyd wakker op die een dag wat ons kon laat slaap.

Kry ek toe summier die gier om die pad te vat. Ag ja, vat dit weer ‘n ewigheid om honde kos te gee en uit te sorteer waarheen ons gaan ry. So besluit ons na lange laas op Parys.

Nie 500m gery nie, toe raas Ma met Pa oor sy venster oop is en sy verwaai. Ons nader ‘n groot kruising en ek vra: “Hoe ry mens Parys toe?” “Reguit aan,” sê Ma. “Draai links,” kom dit van Pa.

Ek oorweeg omdraai, maar ons haal darem Parys. Eet ontbyt en ry weer terug. Nader Vanderbijlpark en soos ek gedink het, moet ons nou eers by ‘n winkel stop. “Waarheen Ma?” vra ek.

Vyf minute later, nadat ek bykans elke groot winkel in die dorp se naam gehoor het, besluit sy uiteindelik op ‘n winkel rivier se kant toe. Was al amper klaar gewinkel toe Pa vra, “wat nou van die kleintjies?”

Menende die twee honde, Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi, wat glo as ons ry moet ons iets vir hul saambring. So gaan staan ons voor die rak met pasteie. Dis net na 11 en die rakke is leeg.

‘n Jong werker staan nader om ons te help. Vat ons hoe lank om te besluit watter geur om te vat. Sien die outjie kyk ons snaaks aan toe Ma net een bestel.

Maar ai, die kind se gesig toe sy sê: “Dis vir die hondjies by die huis”! Ek het sommer begin lag. Al wat hy kon sê is: “Sjoe tannie, kan ek by jou kom bly?”.

‘n Naskrif uit 2021. Die honde is steeds vies as ons by die huis kom en daar is niks in die sakke vir hulle nie. Maar die een wat nou se dae die koek vat is Kleinsus Antjie.

Kyk, sy ken die winkelsakke en weet presies wat kan sy uit watter sak verwag. Haar gunsteling is as daar ‘n bottel “regte” (nie langlewe nie) melk verskyn en natuurlik droëwors. Laasgenoemde verkies sy om in die aande op my bed te eet, want sy deel nie graag met haar ousus, Baba Bessie nie.

Lees die oorspronklie berig hier:

Net een vir die hondjies

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button