BlogsOpinions

Voet in die hoek met Ta’Meisie en Habakuk

“Third class riding is better than first class walking!” Met dié woorde het oom Charlie Kavanaugh, ons buurman, baie keer ast’ware die skaamte oor ons drie meisiekinders se hoofde gewerp.

Liewe Persoon

Jy sien, as jou pa ‘n 19-voertsek Fiat ry, dan gebeur dit dikwels (lees: altyd) dat jy eerder skool toe sal stap as om voor die skoolhek afgelaai te word – maak nie saak hoe die weerstoestande lyk nie! Dit was op geleenthede soos hierdie wat oom Charlie met groot erns sy mening oor dié netelige situasie gelig het. Maar laat ek julle eers voorstel aan die Fiat ter sprake: Habakuk (ja, ons het name vir al ons karre, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag). Sy was ‘n 1974 128 model. Sy was wit en groot. ’n Tweedeur. Haar vensters was nog groter.

Die term “blikkerig” kom in my gedagtes op. Hoewel sy in prime condition was, was sy eenvoudig nie die sagste op die oog nie – al was sy pure Italianer. Ek het altyd gedink as ons haar swart verf, dan kon ons soos die Adams-familie in ‘n lykswa ry. As jy – soos ek, ‘n (oor) aktiewe verbeelding het, kon sy jou terstond ook aan die glaskis van Sneeuwitjie laat dink (net met blik en vier wiele). My pa het met haar myn toe gery. Ons het ook baie maklik ‘n kleinerige wasmasjien én ‘n fiets vir Pilletjie universiteit toe karwy óf ‘n maand se tuinrommel – in een rit, na die stortingsterrein geneem.

Dit was regtig okay as ‘n nutsvoertuig – en baie handig, maar dit doen nie veel vir jou reeds brose  selfbeeld as Pa jou op ‘n Vrydag reg voor die hoofhek inwag nie. En my pa… hy was ‘n regte platjie.

Daar was vir hom niks lekkerder as om juis dan óf die toeter te druk óf die petrolpedaal te terg nie… ek bloos nou nog as ek net daaraan dink! Waar vandag se renmotors ‘n groot rooi knop vir die nitro boost het, het Habakuk ook ‘n rooi knop gehad – ‘n ekstra choke. Ai, lekker lag ek nou! Die Vrystaatse winter is nie ‘n man – of ‘n kar, se maat nie. Eintlik het almal mos in daai jare ‘n bietjie ekstra juice gebruik.

Dan was daar Ta’Meisie. Sy was ‘n goudkleurige 1972 Datsun 1600 Deluxe model. ‘n Sedan. Ons het haar gehad vandat ek my verstand gekry het. Sy het wit leersitplekke gehad en boeta, as sy vir so ‘n halfuur in die son gestaan het kon jy lelik verbrand (maar ai, die leersitplekke het so lekker geruik)! Ek onthou hoe ons eenkeer R5.00 se petrol ingegooi het om by my oorle’ Ouma Dorp in Viljoenskroon te gaan kuier. Ta’Meisie het ‘n uitsonderlike kenmerk gehad: jy kon haar in latere jare óf sonder haar sleutel óf met enige sleutel bestuur.

Ek onthou hoe benoud ek was toe ek op ‘n keer – tydens eerste pouse, met ‘n skok agterkom dat ek vir een of ander rede haar sleutel in my sak het! Turns out, toe my ma haar afskakel om die bos sleutels vir my te gee om die posbus oop te sluit, het sy bloot net aanhou loop. Ons lag nou nog oor hoe my ma – met groot verbasing en sukses, haar kantoorsleutel gebruik het om dié dame in haar spore te stuit! As ek vandag terugdink aan my kinderdae dan mis ek vir Habakuk en Ta’Meisie. Ek mis die honderde kilometers wat ons in daardie twee veterane afgelê het. Oom Charlie was tog reg – maar ek dink hy moes bygesê het dat “third class riding” vir die beste herinneringe sorg!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button