BlogsOpinions

STIPSTARENDE BAKKIE-SITTERS

Gelukkig is ek nie melodramaties nie (!), want ek dink ‘n bakkie-sitter sal my sommer terstond daar in die verkeer, laat bieg oor die pakkie onoopgemaakte volgraan ryskoekies op my lessenaar (en die twee tjoklits wat vroegdag al hul sit om my heupmaat geneem het).

Liewe Persoon,

Dit is nou maar so: daar is niemand wat so diep in jou psige kan kyk soos iemand wat voor jou in die verkeer, agter op ‘n bakkie, sy sit ingeneem het nie.

In daardie minuut of twee wat die lig rooi skyn, kyk ‘n bakkie-sitter jou skoon ongemaklik – of dit nou kinders, konstuksiewerkers of ‘n Joolkoningin is. Ek weet nie van jou nie, maar ek kyk dadelik weg. So ‘n stip staar maak my van kleins af al kriewelrig. Dit voel vir my altoos soos oordeel (of moet ek sê, veroordeel).

En ja, ek weet. Die bakkie-sitter is tien-teen-een aan die stoei met sy eie demons. Maar daar in die verkeer, na ‘n lang dag vol jillende telefone, dreigende spertye en durf ek noem: tawwe customers is só ‘n gekyk unsettling. Want sien, skielik voel ek sommer skaam oor die geïrriteerdheid in my stem vroeër in die dag. Ek is spyt dat ek nie meer aandagtig na my kollega geluister het nie, en dat ek straks nie dankbaar genoeg is oor my werksituasie nie.

Gelukkig is ek nie melodramaties nie (!), want ek dink ‘n bakkie-sitter sal my sommer terstond daar in die verkeer, laat bieg oor die pakkie onoopgemaakte volgraan ryskoekies op my lessenaar  (en die twee tjoklits wat vroegdag al hul sit om my heupmaat geneem het).  Of nog erger, my al stipstarend, laat belowe om my admin-vaardighede op te skerp en in te skryf vir ‘n korrespondensie kursus in iets soos Budgeting for Beginners.

Met al dié skuldgevoelens en begeertes om te bieg oor skade en skande, is dit egter steeds vir my verbasend hoe lank ‘n verkeerslig by rooi kan vashaak! Seriously! En wat kan jy nou doen, wehalwe om te bieg. Kyk jy te veel rond, vergeet jy om na eerste rat oor te skakel en as die lig dan wel eventually verander, spartel jy om weg te kom (en tender jy vir ‘n stamp van agter). Om op die selfoon te praat is uit; want dit versmoor jou paraatheid én maak die speed cop kwaad. Jy kan seker jou Noot vir Noot-vaardighede oefen en jou verbeel jy ruil musieknote vir kontantnote, maar dan moet jou selfbeeld kan rekening hou met jou (ooglopende gebrek) aan liriek-kennis. Onthou: Uncle Cracker sing – “…give me the beat boys and free my soul” en NIE “…give me the Beach Boys, and free masons”.  Daar is ‘n (groot) verskil.

So. Ek dink daaraan om vir ‘n wyle op die uitkyk te wees vir bakkie-sitters en hulle dan op ‘n pro-aktiewe manier te vermy. Miskien net totdat ek die geen-smaak-hoë-vesel-dieet bemeester het, of vrede gemaak het met die berg papierwerk op my lessenaar…

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button