BlogsOpinions

BLADSY 3

En om te dink, dit is net op bladsy 3! Teen die tyd wat jy die agterblad bereik het jy óf berading óf ‘n slukkie versterkwater nodig. Only in South Africa!

Liewe Persoon,

Hulle sê elke nuwe jaar is soos ‘n nuwe hoofstuk wat wag om geskryf te word.  As dit so is, dan kan ons regstaan (bontstaan) vir ‘n wild ride in 2019. Ek meen, met die jaar skaars uit die wegspringblokke blyk dit reeds of die reënboognasie ‘n prutpot vol drama, komedie en vreemder-as-fiksie-oomblikke stook.

So slaan ek ‘n bekende Sondagkoerant oop en – getrou aan my nuushond-opleiding en onblusbare nuuskierigheid, mik ek dadelik vir blasy twee en drie want, almal weet mos dis hier waar die hardenuus kom nesskop. En ek staan verslae. Woorde het ek nie… net ‘n behoefte om onbedaarlik te giggel.

Dit is te vroeg vir April Fools.  En skielik dink ek (met innige simpatie) aan die arme subredakteur wat dié koddige nuusversameling moes laat werk. Met die uitleg van die bladsy skort niks: ‘n tradisionele vier blok uitleg met ‘n groot fokusfoto. Dis juis dié foto wat tot die bladsy se komieklikheid bydra. Drie Ingelse manne – ampers so naak soos die dag toe hulle skreeuend hul aankoms in die wêreld aangekondig het – met plakkate wat strategies hul uhm… talente verberg, staan langs mekaar en glimlag. Reken, dié drie latte – almal pierewaaiers van formaat (of so laat die berig jou verstaan) bokspring gehore in Engeland aan die brand.

Anyway. Dit is juis dié uitbundige bokspringery wat hulle en ‘n “ouma” van Suid-Afrika nou saam in die hof laat beland het. Jy sien, die “ouma” (soos die koerant na haar verwys), het ‘n oogbesering opgedoen tydens ‘n jolifikasie in die land van komkommertoebroodjies en graafskapkrieket. En nee, sy het nie deur ‘n sleutelgat geloer nie. Haar eyewitness account van dié manne se mannewales het haar – terug in Suid-Afrika, ‘n trip na ‘n oogspesialis gekos. Ek dink dit is een van daardie gevalle waarteen Ouma Jannie ons altyd gewaarsku het: moenie jou gesig so trek (of in hierdie geval jou oë so groot rek) dat dit vir altyd so sal staan as die klok twaalfuur sou slaan nie. Luidens die berig, het een van die manne se broek, seker van al die bokspring, losgekom en hy het dié stukkie lap eenvoudig vir die gehoor vol jillende vroue gegooi en in die proses vir “ouma” in die oog getref. Miskien het hy net iemand gesoek om die nate vir hom toe te stik…

Ter nabetragting besef hy nou dat dit dalk nie so ‘n slim plan was nie. En die “ouma”, wel, ek dink nie sy woon nou meer live shows by nie.

In ander nuus, op bladsy 3 het drie mynwerkers van my tuisdorp, Virginia, tot die redding van ‘n losloper koei gekom nadat sy in ‘n sloot water beland het. Die koei, gedoop “Mina Moo”, het blykbaar verskriklik gespartel en geskukkel om in die stroom water haar kop bo die water uit te steek. Die polisie se watereenheid het nie kans gesien vir Mina en die sterk stroom water nie, maar soos almal weet: myners is vindingryke mense. Net neffens Mina was daar juis ‘n hyskraan wat ook in die stroom beland het en gevolglik in die modder vasgeval het. En daar, soos Wolraad Woltemade van ouds, trek die myners nie net vir Mina uit die sloot, maar ook sommer die hyskraan. Eezy peezy. En ek haal aan: “…dit gaan beter met Mina nadat sy ‘n vitamien-inspuiting gekry het”.

En dan, dan is daar die berig oor die kleinflaminkkolonie van Kimberley en die onmin wat daar nou tussen ‘n gerekende ornitoloog en Mike Bolhuis – ‘n passievolle voëlredder (onder andere) uitgebreek het. Mike het van die flaminkkuikens gehoor en terstond ‘n privaat straler gekry om miljuisende van dié bondeltjies vere na sy plot in Pretoria te vervoer. Hy – Bolhuis, is uit elke oord geloof vir sy vinnige optrede en spog nou nie net met ‘n trop flaminke nie, maar ook die titel as SA se Flamink-Pappa. Die ornitoloog reken die reddingspoging was voortydig en dat daar nou ‘n wanbalans in die ekosisteem is (in Kimberley en in Pretoria… letterlik ‘n geval van hier te lank en daar te kort). Soos dit met alle verhoudings ook dan gaan, het Bolhuis terstond die ornitoloog van die Flamink-WhatsApp-groep verwyder (nadat hy ook eers foto’s van sy voëls die wêreld ingestuur het).

Soos ek die berig verstaan het geen flamink nou meer privaatheid nie. Snags bekruip ekoloë, ornitoloë, nuuskierige agies en Bolhuis-agente die broeipare van elke hoek en kant. Amper soos Area 51 daar in Amerika.

 

Related Articles

Back to top button