LetterOpinions

Ai toggie Eskom…dit sal ek leer

Ai toggie Eskom...so leer ons

As daar een ding is wat Eskom reggekry dan is dit om ons treë te laat rek.
Soos die spreekwoordelike “early bird” gryp jy naarstiglik jou foon eerste ding saam met die oggendkoffie – wat sê Eskom, is op elke tong.
Hoe laat gaan die ligte af? Jy vra rond, deel die fases met vriend en vyand, soos die dag aanskuif.
Fase 1 ‘n ligte opwarming, fase 2 treë in pas, fase drie hardloop en by fase 4 moet jy hol.
Want kyk die dag het mos net soveel ure, en as Eskom sy greep op jou kry, haal die dag en die moeilikheid jou spoedig in as jy nie jou planne in plek het vir die donker magteloosheid van kragloosheid.
Jou fut is uit, jou tong sleep. Jy werk teen die spoed van lig, dink in jou agterkop watter aandmaal jy gaan optower, want 6 uur steek jy kers aan en ref Eskom jou woedemeter ‘n kerf of twee op as die pot te stadig kook en die honger oë jou aangluur – wanneer eet ons dan ma.
Ons leer in die donker, sit rond in die donker, draf soos soldate links, regs, links, regs om kos, kinders, werk, wasmasjiene, grassnyers en warm water reg te hê voor die kragloosheid jou tref.
Maar die dag het nie genoeg ure en Eskom het nie planne nie.
En al wat ek weet is dat hierdie donkerte wat oor Suid-Afrika hang ons nog gaan leer groter planne maak.
Slim planne om sonder krag te oorleef, slim planne om weer met mekaar te kommunikeer, vir mekaar te kyk, te luister sonder ‘n TV en selfoonskerm-verslawing.
Ons gaan leer prioriseer, beplan, vooruit voor Eskom die briek trap.
Ons gaan nie net fases dophou nie – ons gaan uit die planmaak lesse wat ons leer, ons kinders leer planmakers wees. En om nie te kyk hoe groot die storm is nie, maar hoe groot ons geloof is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button