BlogsOpinions

JANUARIEGEITE

Januarie is, myns insiens, net soos Skeinat.

Liewe Persoon

‘n Gebraaide hoender vlieg niemand in die mond nie – veral nie so vroeg in die jaar nie. Elke jaar is dit dieselfde ding: Januarie dwing jou op jou knieë; bakhand vir genade én uitkoms.

En nou praat ek nie net van die geit dat Januarie soos ‘n slak oor skuurpapier loop nie (dit voel mos altoos asof dié maand ‘n volle 97 dae lank is).  Ek praat van gebuk gaan onder erge Desembervakansie-blues. Van payday wat ‘n ewigheid ver voel. Van kinders wie se nuwe skoolskoene reeds druk en skaaf. Van mammies wat stoei met die oortrek van (hardnekkige) handboeke. Van pappies met gout en hemelhoë kredietkaartskuld (dankie Kersvader). Van sweet in die skroeiende son. Van lippe teen die klippe…

Miskien is dit omdat die meeste van ons in hart en niere werkermiere is. En face it, iemand moet die werk doen. In ons huis is Pilletjie lankal terug agter die toonbank, want Januariegeite verg soms ‘n stropie of iets sterkers. Die Juffrou is met haar kroos herenig en die uwe het reeds twee strategiese beplanningsessies én ‘n handvol vergaderings bygewoon. Selfs Steve, ons pekingese hondjie, moes regstaan vir ‘n goeie begin-van-die-jaar purgasie – veral so na Krismis se groot eet . Hy is natuurlik – nes ons ook maar is, in sy wese gekrenk, want skaapboud is baie lekkerder as hondepille sonder gravy.

Anyway. 

Hoe lekkerder Desember was, hoe erger is jou Januariegeit-toeval. Dit werk amper dieselfde as eksamen skryf op hoërskool: hoe lekkerder jy aan ‘n Skeinat vraestel skryf, hoe groter is jou kans op ‘n ronde rooi nul en hoe slegter jy skryf, hoe groter is die vooruitsig op ‘n goue ster. Strange but true, en ja, ek praat uit bittere ondervinding.

Januarie is, myns insiens, net soos Skeinat.

As dinge ‘te’ vlot verloop, kan jy maar weet die wasmasjien (yskas, tuimeldroër, skottelgoedwasser) is op die punt om te ontplof. Net so kan jy maar weet dat die kat gaan kleintjies kry, dat Pietman sy nuwe skoolbaadjie op die rugbyveld gaan vergeet en dat jou staatmaker swart langbroek se knoop gaan skiet.

Miskien moet die jaar tog eers in Februarie begin, want as Januarie ‘n maatstaf moet wees van die res van die jaar is ons almal in die sop. Aan die einde van Januarie word die balans weer herstel: ouers is terug by die werk, kinders is terug op die skoolbanke en, vir eers word die blikke Bully Beef agter in die koskas gebêre. In Februarie eet ons weer (baie versigtig) rooiworsies en knak ons ‘n biertjie om die braaivleisvuur.

En ons smile, want die nuwe jaar is goed vir ons.

Mag jy sterk staan in 2019 en heelhuids van jou Januariegeite herstel!

tired-and-gaining-weight

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button