BlogsOpinions

Tyd wag vir niemand nie

Alles in die lewe gaan oor klein treetjies in die regte rigting.

 

Ons almal kry 24 ure in een dag, maak nie saak of jy die CEO van ‘n groot maatskappy is en of jy ‘n straatveer, of ‘n boemelaar is nie. Tyd is die een ding wat ons almal een honderd persent  in gemeen het.

Een persoon kry ‘n hele te-doen-lysie afgetiek voor 10uur in die oggend en ‘n ander persoon sukkel om net verder as die bed te kom . So wat maak dan eintlik die verskil?

Ek sou sê dis verseker jou ingesteldheid, waarop jou fokus gerig is. Het jy ‘n doelbewuste rede waarvoor jy opstaan  en sien jy uit na iets, of is jy deel van iets? Maak jy ‘n verskil en beteken jy vir iemand iets, of gaan dit eintlik nie saak maak as jy nou maar inlê tot later en dan maar aandrentel vir die res van die dag nie?

Selfdissipline is die groot –S- woord wat ‘n reuse verskil in elkeen van ons se lewe maak, van jou finansies tot jou eetgewoontes. ‘n Mens kan wat se goeie voornemens of bedoelings hê, maar as jou bedoelings en voornemens nie oorgesit word tot aksie nie, beteken dit eintlik’n ronde nul.

Die ou gesegde sê, oggendstond is goud in die mond, en ek glo oggend ure is dubbel ure.

Hier is ‘n paar wenke.

Staan so vroeg as moontlik op en begin met ‘n vervullende oggend roetine. Trek die gordyne oop en geniet die mooi van die oggend tewyl jy jouself bederf met ‘n lekker koppie koffie saam met jou geliefde. Sommige mense verkies om heel eerste aan te trek en gou te gaan oefen voordat die eise van die dag begin, en as jy graag wil stiltetyd hou en Bybelstudie doen en bid, is oggende gewoonlik die beste tyd, voor die foon begin lui en die dag sy tol begin eis.

Beplan jou tyd want dit werk net soos geld, as jy nie doelbewus besluit hoe jy dit gaan bestee nie, sal iemand anders dit beslis namens jou doen. Maak ‘n lysie en beperk jou tyd op sosiale media en TV tot ‘n sekere tyd van die dag.

Julle het seker al self agter gekom dat hoe meer jy doen, hoe meer kry jy gedoen en dan is daar die bekende gesegde, as jy iets gedoen wil hê, gee dit net vir ‘n besige persoon.

Alles in die lewe gaan oor klein treetjies in die regte rigting. Sterkte met jou week wat voorlê en mag jy klein treetjies maak wat jou op die regte spoor hou, die spoor na ware lewensvervulling en geluk.

 

(Lesers wat met Natasha wil gesels oor die inhoud van die rubriek kan haar skakel by  082 5337957 of stuur e-pos na info@leefmetpassie.co.za)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button