LetterOpinions

Matriek-uitslagdag

Lees hierdie aangrypende gedig, geskryf deur David C. Jantjies, wat geskryf is oor matriek-uitslae en gedeel is deur een van ons lesers. Stem jy saam hiermee?

Daar’s ‘n angstigheid in my binneste
Daar’s ‘n beroering in my gebeente
Daar’s ‘n gekrioel in my siel
Ek kon nie slaap nie
Ek kon nié slaap nie

Gisteraand was die hele land in afwagting
Amper soos dié aand toe die hele land verwag het Zuma gaan bedank
Toe lag hy net, hê-hê-hê, en sing,
Umshini Wam

Dis ‘n ding dié wat jare aankom
Dis ‘n ding dié van bekonkelde statistieke wat ons onderwys manupileer
Met onderwyskundiges wat skoolhoofde en onderwysers terroriseer
Dis ‘n ding dié wat in poniekoerante en bloudak-inrigtings antwoord gee
En kinders kop laat verloor
En ontspoor

Toe gisteraand staan en minis die minister vir ‘n uur lank verskuilde partypolitiek
Die een provinsie dié en die ander provinsie daai
Die MEC’s sit in ‘n ry en trag om intelligent te lyk
Hulle lag beteuterd en klop mekaar senuweeagtig op die bobene
Die slimste kinders in die land sit penorent en vertoon vreemd verward
Gespikkelde wit op swart
Hier ‘n persentasiepunt op en daar een punt vyf persent af
Maar vandag is dié dag
Vandag is dit huil of lag
Jy kan slaag met dertig persent in ons bevryde demokratiese land
Dis matriek-uitslagdag

Dertig persent ingenieur
Dertig persent geneesheer
Dertig persent entrepreneur
En ons wil diplomeer en gradueer?
En ons bou kastig ‘n volk en ‘n nasie?
O, my God wat bevry en omvorm en red
Red ons land en ons mense
Verwyder die oogklappe
Ontskil ons katerakdeurdrenkte visie
Op hierdie matriek-uitslagdag

Want sien, o Alsiende God
Teen dié tyd aanvaar ons dit nou al só
Ons het klakkeloos tevrede geraak
Ons het geleer om oor middelmatigheid en met dertig persent opgewonde te raak
Ons politieke leiers domineer en ons onderwyshoofde propageer
Ons diensleweringmetertjie wys duidelik ons land opereer van Limpopo tot in die Kaap skyt-skyt
Red tog ons geboorteland met sy dertig persent mentaliteit
Juis op hierdie matriek-uitslagdag

Die president is in sy noppies
Die minister spin soos ‘n kat
Die MEC’s knik tevrede
Die skoolhoofde swoeg, kry hartaanvalle en beroerte, hulle is moeg
Die onderwyser arbei tot breekpunt, 24×7
En ons kinders slaag … met dertig persent
Mense, my mense, die tydbom tik-tak onheilspellend sag
Op hierdie matriek-uitslagdag

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button