BlogsOpinions

KRISMISWENSE

Ek begin verstaan waarom die Engelse na hierdie tyd van die jaar verwys as Silly Season

Liewe Persoon
Het jy geweet dat jy nou – behalwe vir ‘n oulike Krismis-bippie vir jou brakkie, ook ‘n rooi snoet en takbokhorings vir jou bakkie kan koop? Trues bob! Want watter self respecting volwasse man wil nou nie by die vendusie met ‘n paar Suidpool-horings rondhang nie?
Ek verstaan die opgewondenheid oor ‘n rooi Kersvaderpak. Ek doen. Maar hoekom sal jy vir Bruno – wie se ore reeds in die bloedige Vrystaatson hang, ‘n woltrui wil aantrek en die arme dier se siel versondig met ‘n bypassende mus én speelse Santa’s little helper-bip? Ek dink – néé ek weet, die murgbeen van die skaapboud is vir hom plesier genoeg…
Sodra die lede van Boney M in die winkels begin sing, en die stringe en stringe tinsel die winkelrakke laat kreun, dan kan jy maar weet: Silly Season is met ons. En ja, ek loop self ook veel eerder in die Krismis-rakke as in die wasgoedpoeier en Stasoft laning. Die Juffrou kan ook terstond nie verby ‘n hoed of verspotte bril loop sonder om vir ‘n foto te pose nie. Net die ander dag het oud en jonk hulle in Woolworths vir ons verstom toe sy on the spot op ‘n mini shoot aangedring het. Dit was net blinkers en vere waar jy kyk…
Miskien kan ons, ons verwondering aan dié klatergoud toeskryf aan die feit dat ons nooit Kersfees met sulke tierlantyntjies gevier het nie. Ja, ons het ‘n boom gehad, maar selfs dié het verskil van dit wat in die winkels was. In ons huis het elkeen ‘n beurt gekry om ‘n boom voor te stel – en dit was pens-en-pootjies deel van die lekker. Vir Ma was dit altyd kerse en blomme en Pa het een keer – toe ons nog in Virginia gebly het, ‘n hengse Conifer in die sitkamer staangemaak. Die Juffrou hou weer van fairy lights terwyl Pilletjie – ‘n uithaler onthaler, elke jaar ‘n tema kies en dit dan deurvoer van die tafel tot die nagereg. Ek hou van simboliek en iets wat met die hand gemaak is. Ek onthou een jaar – net na Ma-hulle Klerksdorp toe verhuis het, het ek ‘n boom uit denneboom-bolle gemaak. Die draad ‘lyf’ van daardie boom het my vingers bebloed gelaat en ek het maklik ‘n maand daarna nog gesukkel om die gom van die bolle uit die sitkamermat te kry (niemand het ook gesê dat daardie klein swart suikermiertjies in hul hordes hul intrek in dié simboliek sou neem nie… eish!).
Van Kersfeesmusse en die gepaardgaande bells and whistles was daar ook nie sprake nie. Klappers is onheilig en verstoor die rus terwyl crinkle paper mos net vir 21sts en skoolkonserte gebruik word. Come to think of it dit is ook vir ons matriekafskeid gebruik, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.
In ons huis werk Kersvader ook met ‘n streng budget, so my skimpe vir ‘n Volvo S80 val op dowe ore. So ook word die skrywes waarin ek pleit vir ‘n Gert-Johan Coetzee-skepping, ‘n vakansie op Oesterbaai en ‘n botteltjie Van Cleef Arpels met baie minagting ontvang. Maar eintlik verkies ek dit, want wenslysies is lekker, maar samesyn en tyd saam met hartsmense is onvervangbaar. En face it: dit help nie jy lyk soos ‘n droom en ruik soos ‘n adelike en jy sit vinger-alleen in jou Volvo…
‘n Rukkie terug, lees ek die volgende: “One of the most bittersweet feelings is realizing how much you’re going to miss a moment while you’re still living it.” En skielik tref dit my: vanjaar gaan Kersfees ‘n anderse gevoelte hê. Pa is mos nie meer hier nie. Hy gaan nie die skaapboud sny nie. Hy gaan nie aandring op soetkoekies (ouma Cielie se resep) vir ontbyt, middagete en aandete nie. Hy gaan nie in die dae voor Kersfees sorg dat die tuin eksie-perfeksie is nie. Hy gaan nie aan die Kerstafel bid nie.
Sien jy nou waarom Kersfees oor meer as verspotte tierlantyntjies gaan? Dit kan nie in blink geskenkpapier toegedraai word nie. ‘n Onbekostigpare prysetiket maak dit nie (meer) memorable nie. Dit gaan oor saamwees en tyd wat – vir ‘n wyle, vir die mensdom tot stilstand bring.
My wens vanjaar?
‘n Gees van genoegdoening. ‘n Vonk van vrolikheid. ‘n Getuienis van dankbaarheid.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button