LetterOpinions

Hoërskool Parys – die skool met ‘n Hart!

Hoe begin mens dankie sè as woorde ontbreek en dankbaarheid jou normale denkwyse oorheers? Wel, dis die rede vir my brief vandag.

Ons weet almal dis deel van goeie maniere om “asseblief” en “dankie” te sê, maar om dankbaarheid te toon gaan soms net ongesiens verby, asof dit sommer net vanselfsprekend is.

Maar vandag wil ek uit my hart dankie sê aan Hoërskool Parys, elke onderwyser, leerder, asook die skoolhoof, mnr van Zyl.

Dankie vir die onverdiende guns en goedheid wat jul elke oomblik van elke dag bewys.

Ek en my man is albei oudleerlinge van Parys en van toeka tot nou is Parys Hoërskool deel van die bloed in ons are. Die skool is nog net so toegewyd, gedissiplineerd en fundamenteel soos in 1999.

Ons dogter, Genevieve, is in 2017 ingeskryf as ‘n Gr 8 leerder hier, en soos baie mense reeds weet, is sy blind. Van dag 1 af is Genevieve met ope arms verwelkom en deel gemaak van die familie van Hoërskool Parys.

Sy neem deel aan als, van die Liefde Is toneelstuk, atletiek, redenaars, kunswedstryd ….als waaraan jy kan dink. Selfs in LO word sy die kans gegun om deel van die oefening en speletjies te wees.

Genevieve is ‘n baie intelligente, standvastige mens en met die skool se ondersteuning as wind onder haar vlerke, is daar net doodeenvoudig geen keer aan haar nie.

Elke onderwyser wat reeds met en saam haar gewerk het, het haar soos enige normale leerder behandel, iets waarvoor sy ongelooflik dankbaar is. Elkeen van hulle het diep, permanente spore in haar hart gelaat.
Sy pas in en dit was nog altyd haar groot droom. Sy het vir die eerste keer in haar lewe ‘n sosiale groep om mee te meng, maats wat haar bystaan en haar soos een van hulle laat voel. Aan elke ouer en kind wat ook ‘n deel hieraan het, verskriklik dankie.

Daar is soveel stigma met betrekking tot skole, maar ek kan vandag opreg getuig dat geen ouer ooit ‘n fout sal begaan om hul kind deel van die familie van die skool met ‘n hart te maak nie.

Geleenthede is verseker daar, elkeen moet dit net aangryp. Hier is jou kind uniek as individu en nie bloot ‘n nommer nie.

Daar word gesê as jy die somtotaal van jou lewe bymekaartel, sal jy agter kom dat als altyd vir die beste uitwerk.

Hoërskool Parys, julle is verseker Genevieve se beste! Ons is geskape om spore te los en julle gee vir Genevieve die fondasie waarop sy diep spore kan trap.

Dankbaarheid ontsluit die volheid van die lewe en julle het aan ons die sleutels daarvoor gegee!

Jul het aan ons die geleentheid gegee om ‘n droom in werklikheid te verander en daarom sal om dankbaar te voel en dit nie te sê nie, wees soos om ‘n geskenk toe te draai en dit nie te gee nie.

Julle is voorwaar die skool met ‘n hart duisend. Dankie Hoërskool Parys. Dis ‘n klein woordjie maar die betekenis daarvan enorm!

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button