BlogsOpinions

‘n Ewige respek vir ‘n plastiek roomysbak

Liewe Persoon

Ek voel vandag altoos soos een van daardie Comrades-atlete wat net so voor die afsnytyd oor die wenstreep kruip (met die gepaardgaande krampe en die besef dat my illusie van langsteelrose, Franse sjampanje en Chariots of Fire net dit was… ’n illusie). Hierdie jaar is rof en roekeloos (by tye), maar ek oorleef.

Aan die einde van ’n jaar – of in my geval die einde van ’n semester, voel ons mos almal soos ou platstiekroomysbakke (en ja, ons het ALMAL ’n roomysbak of twee in die kas – maar ons ontken dit op dieselfde manier as wat ons voorgee om NIE die Huisgenoot te lees nie!).

Ek het ’n ewige respek vir ’n plastiekroomysbak.

Eenjaar, ek dink ek en die Juffrou was so 6 jaar oud, toe breek daar ’n allerverskriklike twis uit terwyl ons besig was met die skottelgoed. Jy sien – altwee wou was en niemand wou afdroog…  en toe gebeur die ondenkbare: so saam die ruk en pluk toe laat val ons die hele stapel eetboorde… en dit is net flarde porselein waar jy kyk! En van die hele spul, bly net twee borde oor (ons was ‘n gesin van 5). Weet jy wat was ons straf? Ek en die Juffrou moes vir omtrent ’n maand lank elk uit ’n roomysbak eet – nie omdat daar nie ander borde was nie, maar omdat ons ’n les moes leer. Ek onthou tot vandag toe hoe skaam ek gekry het!

Maar, om terug te kom by die einde/middel-van-die-jaar-roomysbak-vergelyking: ou roomysbakke is dalk nie so mooi soos splinternuwe Tupperware nie, maar het jy al gelet: (1) roomysbakke se deksels verdwyn nie oornag nie, (2) roomysbakke trek nie skeef in die skottelgoedwasser nie en (3) dit kan vleisrolletjies, driehoekbroodjies EN frikadelle inpas vir die langpad…

In kort: dié bakke is betroubaar, lojaal en aanpasbaar! Doen jouself ’n guns en kyk met nuwe waardering na jou roomysbak (jouself) en wat die nederige bakkie al alles vermag het

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button