BlogsOpinions

Stroopoomblikke

Liewe Persoon

 


 

Ek het dit (al)weer gedoen! Ek het gepraat sonder om my verstand te gebruik. In teen deel, ek dink nie my mond en my verstand was eers in dieselfde vertrek nie. Noem jy dit maar ‘n outer body experience, want ek het nie ‘n verduideliking vir wat gebeur het nie. Ek pleit bewusteloos. Wat het ek gedoen? Ek het my naam met ‘n plank – vir ‘n ses, geslaan, en toe ek eers begin toe is daar geen keer nie – die blapse het soos stroop geloop.

Jy weet mos hoe die buisligte in lang en donker gange in rillerflieks altyd so aan-af-flikker – amper asof daar ‘n permanente bedradingsfout is? Nou ja, dit wil voorkom asof ek ook ast’ware met ‘n langtermyn bedradingsfout sukkel.  Anders as in rillerflieks wag ek nie my slagoffers in met ‘n hanswors-gewaad en ‘n kombuismes nie, maar eerder met ‘n mondvol tande en onvanpaste sinne.

Gisteraand – tydens ‘n laatmiddag vergadering, stap die voorsitter van ‘n sekere komitee (universiteite is versot op komitees en werksgroepe) die raadsaal binne en soos dit maar sy gewoonte is, groet hy almal vriendelik met die hand. So kom hy by my en sê: “Goeienaand, hoe gaan dit?” en net daar spring my bedradingsfout – soos ‘n voorbarige voordanser by ‘n Sun City extravaganza, uit die kassie ( kompleet met vere en fishnet-kouse) vir die hele wêreld om te aanskou. Ek spring orent, gryp die arme man se hand en uiter – in Engels no less,  die volgende woorde: “Pleased to meet you!”   Die oomblik toe die woorde oor die drumpel van my tong  trippel, toe wéét ek. Wat gevolg het was ‘n baie vreemde (selfs verskrikte) uitdrukking op die voorsitter se gesig – so asof hy my wil vra of ek dan nou straks aan geheueverlies ly (persoonlik dink ek hy wou my vra of ek nou skielik begin gomsnuif het).  Dit was verskriklik. Die res van die vergadering het ek net op my asemhaling gekonsentreer… en oogkontak ten alle koste vermy. Ons werk al immers vir langer as ses jaar saam!

Dit is toe – in my tamatiestraat-oomblik, dat ek terugdink aan vorige blapse wat ek al gepleeg het. En weet jy wat, liewe Persoon? Ek vermoed ek is terstond die eksentrieke soort. Mense gaan eendag van my praat as die tannie met die knee highs en die rooi polvye. Ja, die een met die yl bottelblond hare met die voorliefde vir surconia-ringe, fluweel aandsakkies en Vinolia-seep. Ek sidder as ek dink wat mense mag kwytraak oor my versameling plastiekeendjies en die plakboek vol nuusknipsels oor Allan Donald.

‘n Hele klompie jare terug neem ek in Mafikeng aan ‘n vasvra-kompetisie deel (raar, maar waar). En heaven behold ek wen R10 000 vir my departement. Op daardie dag het die stroop ook geloop, want toe Katlego (ja, die outjie van die TV) my vra hoe ek voel, toe sê ek: “I am fine, thank you. And you?”. Jip. Dis ekke daai.

Of wat van die keer toe ek as jong joernalis in V-town amper twee ure vir ‘n fiksheidsinstrukteur moes wag? Die man was laat (lees: besonders laat), maar dit was ‘n belangrike storie. En wat kom uit my mond toe hy (uit)eindelik daar opdaag met ‘n “jammer ek is laat”? Ek gee jou ‘n raai… “Dit is my plesier!” 

My grootste stroopstorie het egter in Checkers se groente afdeling gebeur – so tussen die boerpampoene en die oorryp (gedrukte) tamaties. Jy sien, toe ek as groentjie by die universiteit begin werk het, het al die titels  my vreeslik senuweeagtig gemaak. Dit was amper soos volksverraad as jy ‘n doktor ‘n proffie noem, of nog erger, ‘n proffie vir ‘n mevrou aansien. En daar tussen die groente bespring een van dié hogere geleerdes (met ‘n baie senior posisie) my en vang my hopeloos onkant met ‘n “Gaan dit goed?” Presies op daardie oomblik slaan ek so toe soos ‘n eerstejaarstudente tydens ‘n mondelinge eksamen en, al wat ek uitkry is: “Jammer, ek kan regtig nie nou gesels nie. Ek het ‘n vreeslike kopseer!” Ek dink ek het daardie dag op my maag uit Checkers geseil, en vir jare daarna het dié betrokke proffie my nog aan daardie dag herinner. Ek het nie regtig kopseer gehad nie, my woorde het net skielik stage-fright gekry.

Stroopoomblikke.

Dit kan met enigeiemand gebeur.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button