![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/116/2018/05/gunsies.jpg)
So bied ek mos nou die dag aan om – as ‘n gunsie – vir iemand te help met die skryf van ‘n redenaarstoespraak. Aanvanklik was dit net hulp met die ontleding van die onderwerp – so ‘n soort van ‘n exploration van moontlikhede. Toe dié gedoen is, toe moet ek – as ‘n gunsie, net die inleidingsparagraaf pleeg – net om die toespraak aan die gang te kry. Dit het ‘n bietjie verbeelding gekos, want ek was jare terug in Standerd 2 én die wêreld het handomkeer verander sedert 1989, maar so gesê , so gedaan.
Dit was seker so twee dae later, toe bevind ek my skielik in ‘n redenaars WhatsApp-groepie. Laasgenoemde is natuurlik die achilles heel van die mensdom. Dit is die broeiplek vir skinder en skade. Dit vreet nie net data nie, maar knibbel ook aan jou senuwees en medemenslikheid. In kort: dit laat jou geheel en al van jou maniere én die kategismus vergeet. Anyway. Na die soveelste getjirp van my selfoon, besef ek dat my gunsie nou in ‘n allemintige barmhartigheidsbediening verander het, want skielik het mense uit alle oorde raad nodig.
Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek help baie graag, maar moenie my – soos my Ouma Cielie altyd gesê het, vir ‘n eendvoël aansien nie. Gunsies is nie (kul)kunsies nie. ‘n Gunsie is iets wat met liefde en oorgawe gepleeg word.
Punt.
Gunsies is nie wenstreintjies wat by elke stasie van hier tot in De Aar stop nie.
Nee!
Die Ingelse meen die paadjie na die warmplek is geplavei met gunsies en goeie bedoelinge, en ek stem saam. Wat begin het as ‘n liefdestaak kan baie gou in ‘n frustration frenzy verander. ‘n Klassieke geval van gee die pinkie en word aan die hand gegryp. Meer nog: gulsige-gunsies gee galbitter returns.