LetterOpinions

‘Só bewaar en help God Sy kinders’

‘Só bewaar en help God Sy kinders’

 

In die onseker tye waarin ons vandag leef, hoor mens te dikwels dinge soos “Wonderwerke gebeur nie meer nie” en “Kyk na die chaos in hierdie land, waar is jou God dan?”, dat ek my genope voel om hierdie stukkie met Vaalweekblad se lesers te deel.

Na ‘n onlangse “besoek” van ongenooide gaste het my man, Pieter, besluit om ons erf beter te beveilig. Op Donderdag, 22 Maart is ons haastig na die ysterwarewinkel in Vanderbijlpark vir die nodige materiaal.

Terselfdertyd het ons besluit om ook gou na die welbekende supermark op die hoek van Ascot-on-Vaal in Bedworthpark te gaan.

Net toe ons uit die winkel kom, sien ons die Here het die aarde begin seën en die sluise van die hemel oopgetrek. Met ‘n benoude beklemming om sy hart het my man skielik besef hy het die sleutel in die voertuig toegesluit toe ons ingegaan het. Ons het verdwaas by die ingang van die winkel gestaan en moontlike opsies bespreek, nadat werknemers van die winkel vergeefs probeer het om te help. Ons kon ook nie daarin slaag om by mede-inwoners van Deneysville, wat ook in die winkel was, ‘n geleentheid huis toe te kry  sodat ons die spaarsleutel kon gaan haal nie. Asof hy gestuur was, kom daar ‘n totale vreemdeling verby, hoor ons praat, en soos die barmhartige Samaritaan draai hy om en bied aan om my man huis toe te neem. My man was so oorbluf met alles wat gebeur het, dat hy skoon vergeet het om die man se naam te vra.

Ek kon daarin slaag om uit te vind wie ons weldoener was. Ons weet nou hy is ‘n sakeman van Heilbron, mnr. Dries Cilliers, wat ‘n slaghuis daar het. Weer eens baie dankie Dries, dat jy bereid was om uit jou pad te gaan om jou medemens in nood te help!

Ek dink dit is veilig om te sê dat God sy kinders gebruik om mekaar te help om die ou gesegde uit te leef: “Die wat régtig iemand WIL help (of iets vir God wil doen) vind maniere om dit te doen. Ander vind verskonings.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button