BlogsOpinions

Sober gewoontes

Liewe Persoon,

 

Die Vaalweekblad, my plaaslike koerant, kos jou waarlik al R5.80! Ek betaal egter dié geldjie met ‘n glimlag, want soos hulle sê: elke diertjie het sy plesiertjie…

Uit die aard van my werk moet ek eerste die voorblad beloer vir tekens van skade, skande of sensasiestertjies. Laasgenoemde verwys na skinder en skimpe en soos jy self weet, liewe Persoon, die ou mensdom slaat mos veel eerder hulle tande in ‘n stukkie sappige skindernuus as in ‘n beskeie stukkie waarheid. Vra maar vir Karlien en Bobby, hulle sal jou kan sê; die struggle is real.

Maar om terug te kom by my weeklikse R5.80 fix. Ons koerant het ‘n sms-hoekie vir eensames. Noem dit maar ‘n eietydse opsitkers. Dit is hier midde die 160 toelaatbare karakters vir ‘n sms, dat oud (maar nog nie koud) en jonk (maar gewillig), weekliks die soeke na liefde voortsit. Wat ek net nie kan verstaan nie, is die kieskeurigheid waarmee Eensame Emma en Boerseun Ben vorendag kom. Is die koerant nie juis die laaste uitweg in die soeke na ‘n sielsgenoot nie? Ek dag dan liefde is blind… nou soek Emma ‘n werkende man met ‘n goeie gholfvoorkeur, tyddeel in Margate en ‘n voorliefde vir oorle’ Bles se  Paloma Blanca. Ben soek op sy beurt ‘n jong blaartjie met skinny jeans, ‘n bewese melktertresep en ‘n Spar loyalty card.

En asof die lys voorkeure nie genoeg is nie, dring elke eensame aan op ‘n foto. Seriously! Dit sê net vir my dat daar ‘n wesenlike verskil is tussen desperaatheid en gewone jeukerigheid!  Miskien is dit ‘n teken van ons tyd, dié dat liefde dan soos ‘n inkopielys bedryf word.  As dit die geval is, dan gaan ‘n paar van ons beslis op die spreekwoordelike rak bly sit, want love handles, ingroei toonnaels, rumatiek-vingers,  en ‘n kloppende knokkeltoon is nie ‘n fynproewerskeuse nie. Aan die anderkant, hoeveel enkellopende hartsjirurge met duur Sweedse motors en Italiaanse leerskoene loop vry rond? Dis altoos soos Mick Jagger gesê  het: You can’t always get what you want!

Ek verstaan waarom sms en digitale flirting so gewild is: jy het die geleentheid om die perfekte jy te skep (wat natuurlik na die perfekte maat soek) en, dit is boonop uiters vleiend én begrotingsvriendelik. Ek meen, met al die filters en foto-foefies kan selfs ek ‘n tweede kyk-weer optower (ek is veral gaande oor die thinning-toep wat binne sekondes ontslae raak van Krismis se skade). Jy hoef ook nie geld te bestee aan ‘n eerste-uiteet of ‘n fênsie koffie-en-tert nie, synde beide weinig waarborg. My enigste probleem met dié nuwerwetse vlerksleep is die spelling (of gebrek daaraan) en soms, soos in die geval van Sarel van Sasolburg, die bladuitleg van die koerant. Hierdie week lees Arme Sarel se sms so:

Ek is Sarel, 34, en is op soek na ‘n meisie. I urgently need R12 000 for an eye operation”

Jy sien, sy sms loop oor twee kolomme en daar word nie mooi onderskeid getref nie. Nou wonder almal oor meer as net Sarel se eensaamheid.

Eintlik – as jy mooi kyk, lees sy sms só:

“Ek is Sarel, 34, en is op soek na ‘n meisie in my lewe om mee te chat. Moet eerlik en opreg wees. Geen cheaters of kansvatters nie. Ek is ernstig oor die liefde”

Arme Sarel.

Wat het dan geword van ‘mooi van binne’, ‘in liefde verlaat’ en, ‘sober gewoontes’? My ultimate gunsteling is sober gewoontes. Soos ek die Hoekie vir Eensames verstaan is sober gewoontes gelykstaande aan ‘n enkele drankie per geleentheid, die gretigheid om deure vir dames oop te hou, die waardering van ‘n handgeskrewe brief en, gesonde gesinsvermaak. Laasgenoemde sluit in dans (veral met Oujaar), visvang, lang ente stap langs die see, vakansie hou in die wildtuin en die herwinning van glas en plastiek. Bonuspunte as jy van kamp hou.

So wat staan Ogies van Meyerton en Casper van Carletonville,  nou te doen? Ek dink hulle moet weer na Jagger se song luister. Hy verduidelik mooi dat as ons aanhou probeer, ons tog sal kry wat ons nodig het. Eventually.

Wyse woorde.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button