LetterOpinions

Wat die Paasfees vir my beteken

"Op God se bestemde aand gaan Jesus en sy dissipels Getsemané binne. Hy vra hulle om saam met Hom te bid. Drie bevoorregte vriende, Petrus, Johannes en Jakobus vergesel Hom ‘n ent verder. In sy ure van angs wil Hy hulle ondersteuning hê. Hy pleit: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”…(Markus 14:34)

Dan kniel Hy, dié mens, en in angs, vra Hy sy Vader om Hom te spaar. As Verlosser weet Hy die Kruis wag. Angssweet, swaar soos bloed, drup op die grond. Lukas berig: “Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val” (Lukas 22:34). Hy staan op. Hy berus. Hy stap sy dood tegemoet.

Sy drie naastes kry Hy aan die slaap. Van hulle sê Lukas: “Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van die droefheid” (Lukas 22:45). Hy lê hulle menslike swakheid, en so ons almal s’n, bloot. Hierna volg die gebeure wat God voor die grondlegging vir ons beplan het: Jesus word verraai. Verhoor. Gekruisig. Begrawe. Hy word opgewek. Hy verlos ons van die dood. Elke jaar volg Christene oor die wêreld Jesus se Lydensweg.
Baie mense kan bely dat hulle opstaan en besef dis Goeie Vrydag. Soms vlieg die Paastyd in die krampagtige gejaag van die lewe verby. Ander kere gaan ons getrou deur die Paasgebeure, sonder om ‘n woord te hoor, ‘n emosie te beleef of versterking daaruit te put.
Net deur stil te word en met ‘n ontvanklike gemoed en luisterende siel by elke stasie te vertoef, kom mens tot die besef van God se passie vir die mens. Dié dag as jy in doodsangs voor die Here kniel, het jy die vertroostende wete: Hy ken doodsangs volkome. As jy in die steek gelaat word deur mense – Hy sal nie. As jy verraai word, Hy het ‘n Judaskus en ‘n haan se kraai beleef.
As siekte en pyn jou folter, onthou Hy het spykers in sy liggaam voel inskeur. As jou lewensbeker bitter is, daar was asyn en gal op sy lippe. As jy alleen voel, dink aan sy smartvolle uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat!” Omdat Hy die grootste pyn, angs en eensaamheid beleef het, belowe Hy jou: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie!” Elke Goeie Vrydag en Nagmaalviering dank ons Hom dat Hy die beker geledig het. Ons verdiende straf het Hy volledig op Hom geneem.
Daarom juig ons: “Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan!”

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button