BlogsOpinions

Skimp-skimp

Liewe Persoon, Ek kan ‘n skimp so goed soos enige ander girl vang. Inteendeel: ek wil waag om te sê dat ek soms só hard luister na wat nie gesê word nie, dat ek sommer ook ongesproke skimpe kan raak hoor. Neem nou maar die ding met my wenkbroue. Ek is daadwerklik kleinserig en daarom …

Liewe Persoon,

Ek kan ‘n skimp so goed soos enige ander girl vang. Inteendeel: ek wil waag om te sê dat ek soms só hard luister na wat nie gesê word nie, dat ek sommer ook ongesproke skimpe kan raak hoor.

Neem nou maar die ding met my wenkbroue. Ek is daadwerklik kleinserig en daarom stel ek die brow shape-aksie so lank as menslik moontlik uit. Eintlik druk die Juffrou my so nou en dan in ‘n hoek vas en dan laat waai sy met die tweezer. Dis nou tot so vier maande terug toe sy in ‘n passievolle oomblik so meegevoer geraak het met dié liefdestaak, dat sy my een wenkbrou so ‘n goeie sentimenter korter as die ander gepluk (of eerder geruk) het. O, die ellende!

Daar sit ek toe: opgehewe ooglede met een-en-‘n-halwe wenkbrou. Dit het baie vreemd gelyk. En, weet jy, dit is bykans onmoontlik om ‘n wenkbrou met die hand na te trek. Of altans, dit is vir my. Ek gaan aan die bewe dat die halwe wenkbrou later soos die strepie op ‘n hartmonitor rondspring. Of die wenkbroupotlood se punt is stomp en dan trek ek lyn soorteglyk aan dié wat ‘n warmgemaakte 750 cc Yamaha op die teerpad los na ‘n glasie (of drie) karate-water.

Anyway.  Toe my Ma die naweek sê dat ek haar altoos aan Genis laat dink – so met die weglê-wenkbroue, toe weet ek sy skimp in die rigting van die skoonheidsalon. Bewus van die pyn wat vir my voorlê, verduidelik ek toe dat wenkbroue as’t ware die kunstige raam om die vensters van die siel (oë) is, en dat ek Frida Kahlo se eklektiese styl aanhang. Maar Ma was reg vir my.  En sy laat hoor: “…ten minste het Frida met ‘n plan gewerk, jou rame herinner aan ‘n pê-geslaapte klapperhaarmatras!” Ek was sprakeloos, maar die skimp het sy merk getref.

So maak ek ‘n afspraak vir my en my klapperdos. Ek merk dadelik op dat die dame by die salon (met die sagte hande, skitterwit tande en perfekte inverted bob) se wenkbroue eksieperfeksie is. Tussen die twee van ons laat sy my soos Zet van ouds voel, never mind Genis!  Soos ‘n lam ter slagting loop ek saam met haar die (druk)gang af en gaan lê op die bed in die vertrek waar kerse brand en iemand besig is om My heart will go on op ‘n panfluit te pleeg.

Skielik vlieg daar ‘n skimp verby… “Het jy self jou wenkbroue geshape?” Ek wil weghardloop en oorweeg my opsies: (1) ek lê daar soos ‘n waterpas (borrel in die middel) en gaan sukkel om vinnig op te kom, (2) ek is 35 plus (ja, toe…) en ek twyfel of sy my gaan glo as ek haar vertel dat my sussie my so verwoes het, en (3) almal by die werk weet ek is salon toe, ek kan nie NIE aan my laat werk nie. Ydelheid kom toe wraggies tot ‘n val en ek mompel iets van warm waks en ‘n kragonderbreking.

Ek lê nog so en bid vir pouse toe tref nog ‘n skimp my vol in die gesig: “Ek gaan nooit uit die huis sonder om my wenkbroue te kam nie, dit is selfs belangriker as onderlaag…” Aarde tog! Dit is mos waarom ek nou hier in hierdie compromising posisie is; om my wilde wenkbroue te tem!

Ek is al amper by die deur uit, toe sy my vertel van ‘n special op masserings. Ek staan toe maar eenkant toe dat die skimp verby my vlieg…

wenkbroue1

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button