LetterOpinions

Ope brief: Verklaar plaasaanvalle as prioriteitsmisdaad, Minister

Geagte minister Ek skryf as ‘n boer. Ek skryf want ek voel vandag verpletter nadat nog ‘n weerlose vrou ernstig beseer is in ‘n plaasaanval in die Vrystaat. Sy het ernstige steekwonde opgedoen. Sy was alleen op die plaas toe vier mans haar op haar plaas buite Bloemfontein aangeval het. In ‘n ander voorval die …

Geagte minister

Ek skryf as ‘n boer. Ek skryf want ek voel vandag verpletter nadat nog ‘n weerlose vrou ernstig beseer is in ‘n plaasaanval in die Vrystaat. Sy het ernstige steekwonde opgedoen. Sy was alleen op die plaas toe vier mans haar op haar plaas buite Bloemfontein aangeval het.

In ‘n ander voorval die naweek is ‘n 74-jarige boer van Reitz met knopkieries geslaan en ernstig beseer.

Die afgelope week is ‘n bejaarde boer van Villiers in die Vrystaat ook ernstig beseer.

Om sake erger te maak, het plaaslike media die week berig dat ‘n dossier in ‘n plaasmoord-ondersoek weggeraak het en die beskuldigdes vrygelaat moes word.

Ek hoop u is bewus van die plaasaanvalle en die vlak van geweld wat daarmee gepaardgaan.

Ek weet: Misdaad is misdaad, ongeag wie die slagoffers is.

Miskien is ons almal skuldig daaraan dat ons toelaat dat ons nie meer sensitief is vir elke moord, elke aanranding, elke verkragting en vir elke misdaad wat gepleeg word nie. Miskien het ons nasie so gewoond geraak aan misdaad, dat ons dit aanvaar as ‘n gegewe – as normaal.

Maar min. Mbalula, daar is niks normaal aan die wyse waarop boere aangeval en vermoor word nie. U het in die parlement gehoor hoe wreed plaasaanvalle is.

In Januarie was daar gemiddeld 1.3 plaasaanvalle elke dag in Suid-Afrika. Een boer is in dieselfde tydperk elke sesde dag vermoor.  Dit maak my beroep die gevaarlikste in Suid-Afrika.

Die ANC wil grondonteiening versnel.

Maar wat dan? Waar gaan dit stop, minister?

Die feit is, ek het nie grond gesteel nie. My pa het nie grond gesteel nie. My voorouers wat destyds die grond bekom het, het dit eerlik gedoen. Titel- en aktedokumente daarvoor is beskikbaar. Die grond waarop ek boer, is histories myne.

Maar ek gebruik dit nie selfsugtig nie. Ek werk saam na ‘n groter doel in Suid-Afrika. Die werkers op my plaas weet dit en ons is saam vroegoggend in die lande om te begin werk. Ons gee terug aan die land wat ons uit die grond neem. Sonder kommersiële boere soos ek, sal miljoene mense sonder werk wees en sal die land nie kos hê om te eet nie.

Ek kan jou vertel wat die buiteland reeds sê oor plaasaanvalle. Maar ek gaan nie, want hierdie is ‘n gesprek wat ek en jy moet hê.

 

Ek kan syfers gee van hoeveel plaasaanvalle daar verlede jaar was en hoeveel daar reeds in 2018 was. Maar syfers beteken niks as ons nie saamstem oor een ding nie: dat ons almal saamwerk na ‘n beter toekoms.

En minister, hier is dit belangrik dat ons saamstem. Ons kan stry oor die verlede en wie reg of verkeerd was. Maar ons kan dit nie bekostig om nie oor die toekoms saam te stem nie. Ons kan dit nie bekostig om nie saam te stem dat ons, ten spyte van ons verskille, op een of ander manier moet saamwerk nie.

Ek het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons land wat voedsel nodig het.  Jy het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor ons land – om te sorg dat misdaad bekamp word. Die kommandostelsel is destyds afgeskaf en ek weet niks gaan dit verander nie.

Ons gemeenskapspolisiëringforums (GPF’s) werk hard om die veiligheid van ons inwoners te verseker. Ons het burgerregte-organisasies wat saans patrolleer. Maar uiteindelik is dit u werk om ons teen misdadigers te beskerm. Dit kan nie maklik wees nie, maar waar jou departement dalk misluk, kan ons help met idees om dit anders te benader.

Daarom, minister, vra ek dat jy plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar. Dit het gewerk teen transitorooftogte in die jare negentig. Die mag is in jou hande om dit aan te kondig. Stel spesialiste aan, stig eenhede wat kan spesialiseer in landelike beveiliging en kom ons werk saam om die aanvalle te keer.

Dan stem ons saam oor ‘n toekoms.

Dan begin ons werk aan ‘n toekoms – ‘n toekoms waar daar werkskepping is en waar daar voedselsekerheid is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button