BlogsOpinions

Welkom in Parys (3)

’n Mens hoor en lees en sien oor die televisie aanhoudend van diensleweringproteste. Nou ja, munisipale dienslewering is ’n wye begrip en loop deur elektrisiteit, water, skoonmaakdienste, onderhoud van paaie, sypaadjies, parke en wat nog meer. Maar ek wil dit hier hê oor administrasie en nie die onderhoud van die omgewing nie. Nadat die prokureurs …

’n Mens hoor en lees en sien oor die televisie aanhoudend van diensleweringproteste.
Nou ja, munisipale dienslewering is ’n wye begrip en loop deur elektrisiteit, water, skoonmaakdienste, onderhoud van paaie, sypaadjies, parke en wat nog meer.
Maar ek wil dit hier hê oor administrasie en nie die onderhoud van die omgewing nie. Nadat die prokureurs in Bloemfontein en in George drie maande gevat het om ’n eenvoudige verkooptransaksie af te handel, het die prokureur wat die oordrag van die huis wat ek gekoop het in Parys,  die hele proses in vyf weke afgehandel. Dit noem ek effektiwiteit.
Nadat ek met oneindige probleme opgesaal was in Bloemfontein omdat ’n private maatskappy nuwe watermeters ingesit het maar dit nooit by die munisipaliteit geregistreer het nie, het die dame by Ngwathe munisipaliteit daarteenoor alles binne ’n  halfuur afgehandel en ons rekening in orde gekry. Dit noem ek effektiwiteit.
Bainsvlei, buite Bloemfontein, waar ek gewoon het voor Parys, se GPF is ’n paar keer in die verlede aangewys as die beste GPF in die land. Toe ek hier kom, wou ek weer by die GPF aansluit. Toe vertel  buurman vir my van We Care wat saam met die GPF werk. Ek het dadelik aangesluit en mens! Ek dink nie We Care hoef vir ’n  sekonde terug te staan vir enige ander nie. Ek is baie beïndruk met We Care al kry ek die admin jammer oor al die werk om mense af te haal wat nie by die reëls hou nie.
Ons is goed op hoogte met wat in Parys gebeur en die veiligheidsituasie. En die ouens wat patrollie ry, baie dankie daarvoor. Bravo, We Care en Ryno en jou span. Dit noem ek effektiwiteit!
’n  Paar weke gelede gaan ek toe na die verkeersafdeling om my bestuurslisensie te hernu. Met ’n  bitter swaar hart, want ek onthou nog die nagmerrie in Bloemfontein verlede keer. Omdat my lisensie verlore geraak het, moes ek van een kantoor na die ander en toe ek by die kassiere staan, moes ek nog ’n  vorm kry. Dit nadat ek ure lank gewag het vir my oogtoets. Dit was ‘n uitmergelende, onverkwiklike ervaring wat driekwart van die dag in beslag geneem het.
Met ’n  swaar hart dus na Parys se verkeersafdeling. Wat ‘n aangename ervaring! Terwyl ek besig is om die nodige vorms in te vul laat vra hulle my ID. Kort daarna bring die vriendelike man ’n  vorm wat saam met die goed moet gaan. Sommer so. Daarna sommer vinnig deur die oogtoets en daarna vinnig by ’n toonbank geholpe. ‘n Uur hoogstens. En nie dat daar niemand was nie. Daar was heelwat mense. Maar die amptenare weet wat hulle doen en hulle help mense. Dit noem ek effektiwiteit!
En nou die dag om my motor se lisensie te hernu. Dit was net so ’n plesier. ‘n Halfuur toe stap ek uit met die nuwe lisensie. Nou, ek weet Parys is nie so groot soos Bloemfontein nie, en hanteer baie minder mense. Maar Parys se mense is effektief en boonop baie vriendelik en hulpvaardig. Boonop is die lisensiekantore oop een Saterdagoggend in ’n maand!
Dit noem ek: Welkom in Parys!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button