LetterOpinions

Universiteitskostes nie ‘n uitverkoping

As NWU-student is ek dalk een van min wat verlig is oor die 8%-studiekostesverhoging.

letter

Aimee le Roux skryf: 

As NWU-student is ek dalk een van min wat verlig is oor die 8%-studiekostesverhoging.
Ek woon al 21 jaar in Potchefstroom en het die hartseer aan die ander kant van die muntstuk van ‘goedkoop’ studiekostes eerstehands ervaar.
Ons almal wil almal so min as moontlik betaal, maar wat van die hardwerkende enkel ma wat ‘n brief ontvang dat sy moontlik haar werk saam die talle kan verloor?
Goedkoop is duur koop. Die verskil is net dat die universiteite die studente en hul menswaardigheid so moet koester en beskerm dat hulle met hul tonnelvisie nie die gevolge van #FeesMustFall besef nie.
Die samelewing indoktrineer so ‘n verbruikersmentaliteit in ons dat ons die vermoë ontwikkel het om met geweld ons eie selfsug na te jaag.
Ons stap in die winkel in en koop veel eerder die goedkoop R50 koffie as wat ons R100 betaal vir die ‘fair trade’ koffie wat nie van slawehandel gebruik om hul bone te bekom nie.
Ons verwag dieselfde goedkoop dienste van ons universiteite. Ons is nie bereid om onsself op ‘n stoel neer te plak en hard te werk vir daardie 75% gemiddeld om 50% afslag te kry op ons studiegelde nie. Wie wil nou vir ‘n beurs werk as jy eerder jou speelgoed uit die kot kan gooi en die kot aan die brand kan steek omdat jy met naïwiteit glo dat jy dieselfde voordeel sal trek met tantrums as met harde werk?
Ek sê dis tyd vir elke student om te besef dat universiteitskostes nie ‘n ‘Black Friday’ uitverkoping is nie. As jy op soek is na ‘n instansie wat bereid is om menswaardigheid te minag sodat jy goedkoop kan swot ten koste van almal behalwe jouself, is #MyNWU dalk nie die plek vir jou nie.
So, #MyNWU, dankie vir die kosteverhoging. Dankie dat julle nie val (en faal) onder die druk van dié met tonnelvisie ten koste van jul werknemers en instandhouding van spogkampusse nie. Dankie dat ek die voorreg het om soveel hulpbronne en geleenthede tot my beskikking te hê. Dankie dat my studiekostes nie ten koste van hardwerkendes verlaag word nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button