BlogsOpinions

Uit my dagboek: Nuwe Pa; WP vs Sharks vs Liverpool vs Chelsea

Ons hele familie is sportmal. Al die ooms en tannies, oumas en oupas. Almal kyk sport en almal ondersteun verskillende spanne.

Ons hele familie is sportmal. Al die ooms en tannies, oumas en oupas. Almal kyk sport en almal ondersteun verskillende spanne.
My skoonpa en al sy dogters is stoere Province-ondersteuners, hoewel ek dink my skoonma dalk ’n ‘undercover’ Shark is. Ek, my broer, my swaer en my pa is almal erge Shark-ondersteuners terwyl my skoonsus en my sussie se kêrel ongelukkig Blou Bulle is. Dan heeltemal uit anderkant van die veld kom my swaer se broer wat ’n passievolle Vrystaat-ondersteuner is.
Dié gemors eindig nie net by rugby nie, omdat ons hele familie ook redelike sokker-aanhangers is. Ek en my swaer ondersteun Liverpool, my broer is ’n groot aanhanger van Manchester United, my vrou en my swaer se broer is nou weer sterk aan Chelsea se kant. Intussen word daar nog vir plaaslike sokkerspanne geskree en almal is hier ook aan iemand anders se kant, Pirates, Chiefs en Cosmos word almal ondersteun. Die krieket gaan ek nie eers op ingaan nie, bloot omdat ek nie krieket kyk nie. As ek wil sien hoe iemand vir vyf dae lank ’n bal rondslaan sal ek self gaan gholf speel.
Gewoonlik los ek mense om hulle eie slegte keuses te maak, soos vir die Bulle skree, maar dit raak nou amper ’n familiegeveg vir watter spanne Aiden eendag gaan skree. Almal koop truitjies en balle om op ’n manier die kind te beïnvloed. As ek Aiden was, was ek reeds so deurmekaar dat ek dalk sommer alle sport los en begin ballet doen. Okay wag, ons kan seker nie so ver gaan nie. My vrou sê hy sal sy eie besluit neem eendag.
My uitgangspunt is egter dat ek nie wil hê hy moet die verkeerde besluit neem nie. Sê nou net hy besluit om nie vir die Sharks en Liverpool te skree nie, dan gaan daar mos ‘n permanente bakleiery tussen pa en seun wees. As hy saam met sy ma en oupa vir die WP skree gaan hulle mos saamtaan teen my en dit wil ek ook nie hê nie. In daardie geval sal ons genoodsaak wees om nog ’n boetie of sussie te kry, sodat daar darem iemand van kleins af aan my kant kan wees.
Die alternatief is om hom sommer van kleins af te leer om vir die Leeus te skree, want daar is niemand in ons familie wat al daardie stap geneem het nie.

Related Articles

Back to top button