LetterOpinions

Dankie ouers vir só ‘n voorbeeld!

Ben en Queenie du Toit se kinders skryf:

Ben en Queenie du Toit se kinders skryf:

Ons dierbare ouers, Ben en Queenie du Toit, het op 7 Januarie vanjaar hul 60ste huweliksherdenking gevier. Wat ‘n wonderlike voorreg is dit nie vir ons as kinders om ‘n ouerpaar te hê wat so ‘n kosbare voorbeeld vir ons gestel het nie. Ons pappa het eers by Stewards & Lloyds gewerk en later by die Meyertonse munisipaliteit. Daar het hy ook op pensioen gegaan.

Mamma het ons kinders grootgemaak, deur skool gehelp, trane afgevee en pleisters geplak. Sy het ons geleer huishou, kinders grootmaak en van vrouwees. Pa het ons geleer om lief te wees vir die natuur, van groente en vrugte plant, bome snoei, hoenders grootmaak en tuinmaak. Ons was net twee dogters en moes maar handjie bysit met pa se stokperdjie wat sweiswerk was – of ons daarvan gehou het of nie.

Ma het koeksisters gebak vir ‘n ekstra inkomste en baie dae was ons taai tot agter ons ore. Vandag doen pa en ma dit nog steeds en so het koeksisters bak, sweiswerk en tuinvroetel saam met hulle ouetehuis toe getrek. Dankie vir ouers wat ons geleer het dat dinge reggemaak moet word en nie weggegooi moet word nie, dat huwelike gebou word ten spyte van probleme, dat liefde groei met jare ten spyte van armoede en swaarkry.

Dankie Pappa en Mamma vir jul pragtige lewe waarvan ons, jul vier kleinkinders en twee agterkleinkinders, deel kan wees. Julle is kosbaar.

Related Articles

Back to top button