BlogsOpinions

Wenke vir ouers

Assesseer só jou kind se skoolrapport Net voordat die skoolvakansie regtig begin, is daar ’n oomblik van waarheid wanneer ouers hul kind se jaareinde skoolrapport ontvang.

Assesseer só jou kind se skoolrapport

Net voordat die skoolvakansie regtig begin, is daar ’n oomblik van waarheid wanneer ouers hul kind se jaareinde skoolrapport ontvang. Susan du Plessis, Edublox se Direkteur van Opvoedkundige Programme, sê dat dit vir alle ouers van uiterste belang is om te weet waarna om te kyk wanneer jy jou kind se skoolrapport lees, ongeag die finale punt wat ’n kind ontvang. Vir sekere ouers was hierdie tydperk nog nooit ’n bekommernis nie want hulle is vol vertroue dat hul kind na die volgende graad bevorder sal word, maar vir ander is dit ’n tydperk van intense angstigheid.

 

Du Plessis sê dat die wyse waarop ouers oor die skoolrapport reageer ’n belangrike rol kan speel in hoe hul kind die volgende jaar presteer. Sy moedig ouers aan om kwaliteit-tyd opsy te sit om met hul kind sy akademiese vordering in 2015 te bespreek en om akademiese doelwitte vir 2016 te stel. Dit moet verkieslik nie gedoen word wanneer die finale resultate ontvang word nie en ook nie in Januarie wanneer dit al te laat is nie. Daar is gemoedsrus vir ouers wat weet dat hulle ’n gestruktureerde plan in plek gesit het om hul kind te help om sy volle potensiaal te bereik, hetsy die kind ’n gemiddeld van 75% handhaaf en moontlik 90% kan behaal, of al is die doelwit vir die volgende jaar slegs om elke vak te slaag.

 

Indien ’n kind swak presteer het, word daar aanbeveel dat hy ’n leestoets moet doen. Du Plessis sê dat leesstoetse net so belangrik is as wat ’n oogtoets en gehoortoets is. Om lees te toets, is ’n nuttige manier vir ouers om uit te vind of hul kind visuele of ouditiewe prosesseringsprobleme het, wat anders is as om ’n sig- of gehoorprobleem te hê. As ’n kind sukkel om akkuraat te prosesseer wat hy lees, lê die probleem nie in sy oë nie en kan die probleem dus nie met ’n bril opgelos word nie. So ook kan ’n ouditiewe prosesseringsprobleem nie met ’n gehoorapparaat opgelos word nie. Ontwikkeling van kognitiewe vaardighede is noodsaaklik om die brein se vermoë om inligting akkuraat te prosesseer, te verbeter. Tipiese simptome van visuele of ouditiewe prosesseringsprobleme is die ommekeer van letters, jou plek verloor terwyl jy lees of sukkel om individuele klanke saam te voeg in ’n woord, soos k-a-t. Vermy aanlyn- of gerekenariseerde leestoetse. Wees op die uitkyk vir ’n deeglike leestoets wat jou sal help om geskikte en beproefde strategieë te vind om jou kind se leerprobleme op te los.

Du Plessis waarsku dat ekstra klasse wat kurrikulum-gebaseerde ondersteuning bied, nie leerprobleme wat deur ‘n tekort in kognitiewe vaardighede veroorsaak word, kan oplos nie. Die hersiening van verskillende aspekte van ’n vak kan slegs gedoen word nadat die dieperliggende probleme deur kognitiewe vaardigheidsontwikkeling opgelos is. Aandag, prosessering, geheue en redenering is fundamentele vaardighede wat in plek moet wees voordat enige vak voldoende verstaan kan word.

As jou kind in 2016 Graad 1 gaan begin, gaan jy nie net moet seker maak dat hy die korrekte skooluniform en skryfbehoeftes het nie, maar ook of hy gereed is vir hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe. Kinders wat Graad 1 betree, behoort oor die taalvaardighede asook ’n voldoende woordeskat te beskik om te leer lees en spel. Hulle behoort aanwysings te kan interpreteer, van ’n bord te kan afskryf, verbale aanwysings te kan volg en goed te kan tel. Fynmotoriese vaardighede soos knip met ’n skêr, die oorteken van eenvoudige vorms en inkleur is fundamenteel vir skryf.

Graad 3 is die finale jaar van wat bekend staan as die Grondslagfase. Du Plessis sê dat as jou kind Graad 3 in 2016 begin, dit die laaste jaar is om werklik seker te maak dat sy lees op standaard is voordat hy Graad 4 begin wanneer die vakinhoud en werkslading aansienlik toeneem. Dit is makliker om ’n kind te help om sy leerprobleme in Graad 3 te oorkom, voordat hy Graad 4 bereik wat die deurslaggewende jaar vir ouers is om te verseker dat hul kinders oor effektiewe studiemetodes beskik.

Ouers wie se kinders met gemak slaag, moet in gedagte hou dat sulke uitslae laag is vergeleke met internasionale standaarde. Du Plessis sê voorts dat leerders wat ’n gemiddeld van 60 tot 70 in Suid-Afrika handhaaf, moontlik nie die graad in ander lande sal slaag nie. In hierdie land mag jou kind dalk geringe sukses behaal het, maar hierdie is egter plaaslike standaarde en kan nie internasionaal vergelyk word nie.

In die eerste paar jaar van laerskool is ouers baie aktief betrokke by hul kinders se akademiese ontwikkeling, en sal tyd saam met hulle deurbring om te luister hoe hulle hardop lees of hulle help om hulpbronne op te spoor vir skoolprojekte. Ten einde ’n kind ten volle te laat vorder, moedig du Plessis ouers aan om geleidelik huiswerkondersteuning te verminder. Teen Graad 6 behoort ’n kind ten volle toegerus te wees met die regte gesindheid om verantwoordelikheid vir sy eie akademiese sukses te aanvaar en om onafhanklik aan skoolprojekte te kan werk. Du Plessis sê dat dit die ideaal is dat enige leerprobleme teen Graad 6 opgelos is omdat daar op hierdie stadium van kinders verwag word om onafhanlike leerders te wees.

Du Plessis sê dat ouers van kinders wat hoë presteerders is, ook ’n rol het om te vervul. Hierdie kinders vereis addisionele uitdagings en verryking. Dit is nie net gedurende die skooltermyn noodsaaklik nie, maar ook gedurende skoolvakansies. Du Plessis sluit af deur te sê dat skaakklubs, spelkompetisies en lees-kunswedstryde addisionele stimulasie aan leerders bied wat gereeld toppresteerders in hul klas is.

Edublox is voorlopers in kognitiewe ontwikkeling met 22 lees- en leerklinieke regoor Suidelike-Afrika. Edublox bied multisensoriese kognitiewe opleiding gemik daarop om die fundamentele vaardighede van lees, spel en Wiskunde te ontwikkel en te outomatiseer.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button