BlogsLifestyleOpinionsReligion

‘Stempel ons ook sò deur die Heilige Gees, o Here!’

“Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.” Wat ‘n geweldige woord. Almal in die vroeë kerk, t.s.v. onderlinge verskille, was van dieselfde gesindheid.

Ds. Koos Mouton – Gereformeerde Kerk Mooirivier
Lees Handelinge 2:37-47

“Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.” Wat ‘n geweldige woord. Almal in die vroeë kerk, t.s.v. onderlinge verskille, was van dieselfde gesindheid. Daar is politieke verskille. Ons stem nie saam met spankeuses van die afrigter van ‘n sportspan nie. Selfs binne die kerk verskil ons oor sake. En tog bely ons Sondag na Sondag: ”Ek glo aan ‘n heilge, algemene, Christelike kerk.”

Hoe het die eerste Christelike kerk gelyk?
1. Hulle dra ‘n besondere stempel. Die kerk van die Here vertoon eienskappe wat hom anders maak. Ons word Christene genoem omdat ons die stempel van Christus dra. Ons glo dat die Here Jesus Christus ons Verlosser is wat kom regmaak het wat verkeerd gegaan het tussen God en mens. Deur aan ‘n kruis in ons plek te sterf. GELOOF is dan die gemeenskaplike kenmerk onder Christene. En die geloof word omgesit in dade. Daar het ‘n DIEP ONTSAG (1953 vertaling: vrees) oor almal gekom. Eerbied vir God. Verder was daar ONDERLINGE LIEFDE. Gelowiges is familie, huisgenote van mekaar.

2. Hulle het vanuit ‘n BRON geleef. Die eerste gemeente het saamgekom by die tempel, en by elkeen se huis. Hulle het saam gebid, saam die Woord oordink. Maar die belangrikste was dat hulle hul toegelê het op die LEER VAN DIE APOSTELS. God se Woord is gelees, verklaar en toegepas in hulle elke dag se lewe. Hulle het gereeld EREDIENS gehou. Hulle het bymekaargekom by die BREKING VAN DIE BROOD. (2:42 in 1953 vertaling) Eers is saam geëet, en dan is die Nagmaal gevier. Woord en teken gaan saam. Dit versterk ons in ons geloof. Daardeur word die eensgesindheid in die gemeente beleef. Die vroeë kerk het volhard in die gebede. Bid vir mekaar. Bid vir die koms van die koninkryk van God.

Bid vir die wederkoms van Jesus Christus. Loof God in die gebed. Hulle was verder MEDEDEELSAAM. Wat hulle kon het hulle met mekaar gedeel. Alles is gemeenskaplike besit. (L.w. dit was nie Kommunisme nie, dit was vrywillig!) Sien die nood van behoeftiges raak en doen iets daaraan. Dat ons kan sê: “Wat myne is, is ook joune om te gebruik.” Daar was ‘n SOBERHEID en EENVOUD by hulle aanwesig. Hulle het nie op mekaar neergesien nie. Slimmes en minder slim, ryk en arm, slaaf en vryman, deel alles in Christus. In die kerk van die Here is daar nie standsverskille of klasseverskille nie. En toe het die Here daagliks by die gemeente gevoeg mense wat gered is. So groei ‘n kerk wat aan die Woord van die Here gehoorsaam is.

Dit is die werk van die Gees van die Here. Die Heilige Gees gee die gelowiges ‘n besondere stempel : geloof, diep ontsag vir God, liefde vir mekaar. Vreugde by die breking van die brood. Dan is die kerk van die Here ‘n familie. Eensgesind. Delend in mekaar se vreugde, delend in mekaar se smart.

Daarom is ons gebed: “stempel ons ook sò deur die Heilige Gees, o Here!”

Related Articles

Back to top button