LetterOpinions

Staan op Afrikanervolk!

Kallie du Plessis van Vanderbijlpark skryf:

Kallie du Plessis van Vanderbijlpark skryf:

Mag ons moedeloos word, wanhopig oor ons toekoms en die van ons kinders en kleinkinders? Ja ons mag. Job het ook die woestyn ingevaar en onder ‘n boom gewens hy was liewer dood. Hy het sy klere geskeur en as oor sy hoof uitgegooi. Hy kon sy totale wanhopigheid deur sy daad bewys en hy het gewonder hoekom God hom hierdie pad laat loop. Ons in die moderne tyd drink antidepressante en pille vir angstigheid, ons drink saans ‘n drankie om rustig te kan wees, maar dit alles voeg nie een el by ons lengte nie.

Wat baat al die bekommernis ons? Niks! Oral om ons verloor mense hulle werk, die staat sê vir mense daar is nie vir hulle pensioene begroot nie, soms na meer as 40 jaar diens. Mense leef in armoede en wonder waar die volgende maaltyd vandaan gaan kom. En soos gisteraand oor die nuus op TV weerklink die hoonlag van ons president oor sy Nkandla deur die kuberruimte. Dit vervul mens met afgryse, ons, die hulle, wat beskawing na die suidpunt van Afrika gebring het.

Die Afrikaanse gedeelte van “Die Stem” moet glo uitgeskryf word. Ons skole word gedreig dat ons taal nie meer die voorkeur sal wees vir toelating tot ons skole nie, ons pragskole wat eersdaags gaan lyk soos die murasies in die townships. Nasiebou, handevat? Moord en korrupssie, soos nou met die sokker sage weer. Riool wat in die Vaaldam ingepomp word. Ek glo die Vader sal ons vergewe as ons moedeloos word, want eersdaags sal daar nie eens meer ‘n pilletjie oor wees vir al ons kwale en skete nie, want iewers in die medisyne se vervaardigingsketting ruik ek ‘n rot. Ek wil vir my honde Yorkie kos gaan koop en moet hoor dat hulle ook daar probleme ondervind, ons kleindogter se melk wat sy drink het ook skielik ‘n probleem geword.

Saans en gedurende die dag het ons nie krag nie, misdaad vier hoogty en die munisipaliteite ry die golf van welvaart terwyl die dorpe uitmekaar val. Elke politieke party belowe ons die maan, son en sterre, alles net leë beloftes. Hoe moet mens dan nou positief en opgewonde wees oor die toekoms? Soos ons voorvaders moet ons maak, hulle wat Afrika mak gemaak het, in die vaste vertroue in ons Vader moet ons weer die “osse inspan en die waens pak” en kaalvoet die berge aandurf, ons moet weer met leeuemoed veg vir ons taal en ons behoud. Terwyl die spiese met hulle giftige punte deur die hemelruim klief, moet ons weer die “sannas” van ons denke, waardes en beginsels laai, ons moet weer vurige Afrikaners word. Die Stem deur hierdie mooi land laat eggo, die swepe van moed en durf laat klap, die osse laat swaar trap deur die stowwe en met waardigheid staan vir dit waarin ons onwrikbaar glo. Ons damme moet skoon en helder word, ons riviere suiwer.

Ons volk moet weer die stoere, dapper mense van ouds waarvoor die res van die wêreld respek gehad het, word. “Ek rig my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?” En ons ken die antwoord!

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button