BlogsOpinions

Uit my dagboek: My ouers was reg

Almal sê altyd dat hulle nie soos hulle ouers wil wees nie en eendag as hulle kinders het, gaan hulle alles anders doen. Ek het ook so gedink, tot ek my kind gehad het.

Almal sê altyd dat hulle nie soos hulle ouers wil wees nie en eendag as hulle kinders het, gaan hulle alles anders doen.

Ek het ook so gedink, maar ek vind dat ek meer en meer met my ouers se manier van kinders grootmaak saamstem. Streng reëls, ’n pakslae waar nodig en ontwyfelbare respek vir Ma en Pa. Dit was die steunpilare van hoe ek grootgemaak is, en ek het merendeels normaal aan die anderkant van kindwees uitgekom.
My pa het my altyd die voordeel van die twyfel gegee, tot ek hom rede gegee het om aan my te twyfel, dan was jou kans verby. Glo my, jy het ook net een kans gekry. Maar ek het geleer om eerlik te wees en almal ’n kans te gee, maak nie saak wie hulle is nie. Daar was ook nie verskonings as jy iets verkeerd gedoen het nie.
Van kleins af is ek geleer om verantwoordelikheid te aanvaar vir my dade. Ek onthou dat ek eendag met ’n besondere swak wiskundepunt by die huis aangekom het. My argument was natuurlik dat almal swak gedoen het. Dit was tog die waarheid, want die klas se gemiddeld was maar baie swak daardie kwartaal.
My pa het bloot net gesê dat ek nie almal is nie, net omdat almal swak doen maak dit nie aanvaarbaar vir my om dieselfde swak punte te behaal nie. Ek glo tot vandag toe nog dat die onderwyser net nooit wiskunde moes gee nie. Maar ek het geleer om my beste te gee om alles die eerste keer reg te doen.

Ek ken nou daai kyk wat my pa vir my gee. Jy kan nie jou oë van jou kind afhou nie.
Ek ken nou daai kyk wat my pa vir my gee. Jy kan nie jou oë van jou kind afhou nie.

Ek en my broer het eendag swaardgeveg gespeel, totdat ek per ongeluk my swaard in Brandon se oog gedruk het. Hy was heelwat jonger as ek en wou nie ophou huil nie. My ma het uitgekom om te sien waaroor gaan die lawaai. Sonder om vrae te vra, het sy ons altwee pakslae gegee. Brandon kon nie bly gewees het nie, maar ons het geleer dat jy saam met jou familie staan, maak nie saak wat nie.

My ma Marita met 'n kleiner en vetter weergawe van my.
My ma Marita met ‘n kleiner en vetter weergawe van my.

Ek en Brandon het al meer pakslae gekry oor wat my sussie, Amy gedoen het as wat ek kan noem, maar my pa was van mening dat omdat ons ouer is as sy, moet ons seker maak sy maak nie droog nie. Ek en my broer en suster baklei steeds, soms erger as ander keer, maar ons bly altyd daar vir mekaar, maak nie saak wat nie, en dit is te danke aan ons ouers.
Nadat mens jou eie kinders het, kyk jy met nuwe oë na jou ouers. Dankie Mom en Dad.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button