Local newsNews

Koshuis brand: Skade groot, maar kinders ongedeerd

Dankbaarheid groot vir boere, buurskole se hulp

‘n Verwoestende brand het vanoggend kort nadat die skooldag begin het, in die seunskoshuis van die Gekombineerde Skool Sarel Cilliers in Koppies uitgebreek. Die koshuisvleuel waar die laerskoolseuns gebly het, is deur die brand in puin gelê.  Die oorsaak van die brand moet nog deur forensiese kundiges bepaal word.

Duan Jonker van Koppies Landelike beveiliging en Theuns Botha van ITU Emergency Assist sê hulle het die noodoproep om 07:30 gekry, en het talle boere, ook van die Greenlands Boerevereniging, lede van die gemeenskap en die polisie hulle na die skool gehaas. Buurskole het ook vinnig gehelp met nog brandblussers, en is daar groot dankbaarheid vir die boere en buurskole se hulp.

Omdat die skooldag reeds begin het, was nie een van die 66 kinders wat in die koshuis bly, op die perseel toe dit begin brand het nie, en is niemand  beseer nie.

Foto’s: Natasha Smalberger.

Die vlamme het egter vinnig versprei deur die een vleuel wat heeltemal verwoes is, sê Duan, maar is die tweede vleuel met die kombuis en kamers van die hoërskoolseuns nie in die brand verwoes nie, danksy ‘n vuurmuur tussen die vleuels. Die vlamme in die plafon het veral die brandbestryders se taak erg bemoeillik, sê Duan.

Die dogters bly in ‘n aparte koshuis en is nou na die boonste vloer geskuif, sodat die koshuisseuns op die onderste vloer tydelik gehuisves kan word

Die laerskoolseuns wie se kamers in die brand vernietig is, het alles verloor, en is hulp baie nodig met toiletware, klere, komberse en kussings, selfs matrasse vir hierdie seuns tussen 6 en 14 jaar oud. Mense kan skenkings  by die skoolkantoor afgee en sal enige hulp waardeer word, sê die personeel.

Die Sarel Cilliers skool is vanjaar 112 jaar oud en het 692 graad R tot graad 12 leerders.

Die destydse seunskoshuis is in 1928 gebou en bestaan nie meer nie, vertel  ‘n oudleerder van die skool. Die seunskoshuis wat deur die brand in puin gelê is, was vroeër jare as dogterskoshuis gebruik, onthou hy.

In die laat sestigerjare is ‘n nuwe koshuisgebou gebou wat die huidige dogterskoshuis is.

Foto’s: Natasha Smalberger

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button