Local newsNews

Klagtes oor Deneysville-naam val nie op dowe ore nie

Deneysville se inwoners het eers op 11 September te hore gekom van die voorstel vir die naamsverandering.

Klagtes van onder meer die DA en die VF Plus oor die voorgestelde naamsverandering vir Deneysville na Lekoa, het nie op dowe ore geval nie. Die Vrystaatse Provinsiale Geografiese Name Komitee het ‘n vergadering wat 23 September by die Refengkgotso Gemeenskapsaal sou plaasvind om inwoners van Deneysville se mening te kry oor die voorgestelde naamsverandering, en verandering van die naam van die Gawie de Beer Wildreservaat, onbepaald uitgestel.

DA wyksraadslid Louis van Heerden sê die besluit om die vergadering uit te stel is geneem nadat die komitee ‘n gesprek met die Openbare Beskermer gehad het oor die besware en kommer wat ontvang is oor die naamsverandering, en direkte skrywes wat aan die Minister van Sport, Kuns en Kultuur gerig is.

Die DA sê hy gaan ook ‘n gemeenskapspetisie indien by die Vrystaatse Wetgewer Petisie Komitee.

Die DA sê verder die Vrystaatse Provinsiale Geografiese Name Komitee se besluit om die vergadering uit te stel is ‘n oorwinning vir die beskerming van Suid-Afrikaanse erfenis, en ‘n positiewe stap om te verseker dat publieke fondse meer effektief aangewend word vir byvoorbeeld werkskepping wat die Vrystaatse ekonomie kan help, eerder as om dit op naamsveranderinge te spandeer.
Die VF Plus het vroeër ook gesê die Vrystaatse Departement van Sport, Kuns en Kultuur moes eers die publiek geken het in sy voorneme, en moes meer gedoen het om erkenning te gee aan die ryk geskiedenis van die dorp.

Deneysville se inwoners het eers op 11 September te hore gekom van die voorstel. Die party het daarna ook sy beswaar teen dié naamsverandering ingedien.

Die VF Plus sê ten spyte van verskeie versoeke vir ‘n openbare vergadering in Deneysville, het die departement op 16 September slegs ‘n vergadering met gemeenskapsleiers gehou, waar geen duidelike redes vir die naamsverandering gegee is nie.

Nie net die VF Plus nie, maar ook die DA meen die voorgestelde naamsverandering sal ‘n groot finansiële las vir alle betrokkenes meebring sonder enige bydrae tot dienslewering, infrastruktuurontwikkeling of plaaslike ekonomiese groei. “Verder ignoreer die ANC-regering met hierdie voorstel die dorp se geskiedenis en ontwikkeling, wat strydig is met die ooreenkoms van 1994.”

Ingevolge dié ooreenkoms is munisipaliteite hernoem, maar dorpe en stede se historiese name het behoue gebly. So is Deneysville se naam behou, terwyl die munisipaliteit Metsimaholo genoem is – uit erkenning van almal se gedeelde geskiedenis en diversiteit. Deneysville, wat in 1936 geproklameer is en binnekort sy 100ste bestaansjaar vier, het ‘n ryk geskiedenis en is vernoem na Deneys Reitz, voormalige minister van waterwese, en seun van die destydse staatspresident F.W. Reitz van die Vrystaat.

Die DA het in sy kommer oor die voorgestelde naamsverandering van Deneysville en die Gawie de Beer Wildreservaat gesê dat die brief met die kennisgewing oor die voorgestelde naamsverandering – wat deur die Vrystaatse Geografiese Naam Komitee geskryf is – 5 September aandui as die sperdatum vir besware. Dit was ses dae voordat die gemeenskap van die voorstel ingelig is.

Die party het beklemtoon dat geaffekteerde partye minstens 14 dae moes hê om besware of voorstelle te kon indien, en dat die gemeenskap van Deneysville hierdie geleentheid ontneem is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button