Local newsNews

‘Ek’t atletiek geleef om ‘n stem vir die sport te wees’

Al was hy nooit self 'n kranige atleet nie, is een ding seker - as sportkommentator Thabo Molete die mikrofoon vat, laat hy die adrenalien pomp, want hy ken sy sport en maak jou deel van die wedloop.

Luister jy na sy verstommende kennis oor atletiek as hy jaar na jaar in die kommentatorstoel by die Parys Crater Street Mile sit, sal jy nie glo dat Thabo Molete – die stem van Parys se bekende straatmyl – nie ‘n atleet nie, maar ‘n belowende rugbyspeler op sy dag was.

Hy kom van Wolmaransstad en het onderwys aan die NWU se Puk-kampus studeer. Gedurende sy universiteitsdae word Thabo deel van die NWU Rugby Instituut, en word hy ingesluit in die Springbok Studente Sewes groep wat twee keer in Frankryk gaan speel het. Thabo draf op as flank, maar wys ook sy veelsydigheid as agtsteman, slot en vleuel.

Sy sukses op die rugbyveld het begin op laerskool toe hy die Cravenweek-span in 1996 en 1997 haal. Daarna word hy ook ingesluit in die Hoërskool Cravenweek-spanne in 2002 en 2003. Sy ma se skielike dood aan kanker in sy studentedae, net twee weke na haar diagnose, was egter die keerpunt en rede vir sy besluit om sy rugbytokse op te hang na sy laaste Varsity Cup wedstryd tussen die Pukke en Maties.

Hy begin skool hou as studente-onderwyser omdat hy met beide sy ouers wat toe oorlede was, nie geld gehad het om sy studies te kon voltooi nie. Saans rig hy rugby af by die universiteit, maar moes as onderwyser ook uithelp op die sportveld.

Daar was reeds soveel onderwysers by rugby betrokke vertel Thabo, daarom fokus hy toe op atletiek, en begin ‘n studie maak van die sport.

“Dit het my agt jaar gevat om die sport te leer. Ek moes atletiek droom, leef en praat.”

Sy skoolhou-dae by die Laerskool Promosa in Potchefstroom, en Dagbreek Laerskool in Carletonville sal altyd vir hom uitstaan vertel hy, maar toe kruis sy paaie met die talentvolle vryskut kommentator Altus Schreuder. ‘n Man met ‘n absolute passie en stem vir atletiek. Dit was Altus wat hom touwys gemaak het op die kommentatorstoel, vertel Thabo.

Vandag is Thabo ‘n bekende sportkommentator wie se stem al twee maal oor die Comrades-mikrofoon gehoor is. ‘n Man wat deeltyds vir SuperSport atletiekkommentator en analis is.

Dit is sy stem wat jy op kanaal 126 – die Supersport Skole-kanaal hoor vir die Afrikaanse rugby kommentaar, en ook die man wat die afgelope ses jaar al die atletiekkommentaar vir Atletiek Suid-Afrika by SA Skole atletiekbyeenkomste doen. Jy hoor sy kommentatorstem by padwedlope in ZambiĂ«, en by die Golden Grand Prix in Botswana. Op Erfenisdag was hy die kommentator vir die Absa Run Your City byeenkoms in Johannesburg.

Deesdae is hy ook die brand ambassador van FDC Projects in Fochville.

Al was hy nooit self ‘n kranige atleet nie, is een ding seker – as sportkommentator Thabo Molete die mikrofoon vat, laat hy die adrenalien pomp, want hy ken sy sport. Hy droom, leef en praat dit, – en so maak hy jou deel van die wedloop.

Sportkommentator Thabo Molete saam met Charné Swart, wat vir die afgelope twee jaar agtereenvolgens die Parys Crater Street Mile Elite Dames kragmeting gewen het.

Meer oor die Parys Crater Street Mile:

Die Parys Crater Street Mile word vanjaar vir die eerste keer op ‘n Saterdag gehou en vind plaas op 12 Oktober wanneer talle bekende atlete weer na die dorp sal stroom om aan diĂ© gewilde straatmyl in Parys se hoofstraat deel te neem.

Die straatmyl volg ‘n roete van 1 609,4m – die presiese afstand van ‘n myl en word aangebied deur die Parys Rotaryklub in samewerking met Parys Info & Tourism.

Atlete spring weg en eindig in Waterstraat by die Spur-ingang van die PnP-sentrum. Die draaipunt van die roete is by Plum Tree Restaurant in BreĂ«straat. Die roete is gesertifiseer volgens WĂªreld Atletiek, Atletiek Suid-Afrika en Atletiek Vrystaat regulasies, wat beteken dat deelnemende atlete met die straatmyl kan kwalifiseer vir provinsiale, nasionale en internasionale erkenning.

Die eerste atlete spring weg om 07:00, met die laaste wedloop om 09:30. Soos vorige jare is daar groot pryse op die spel.
‘n Gedeelte van die dorp se hoofstraat sal vir die duur van die Straatmyl gesluit wees tussen 05:00 en 11:00.

Inskrywings is reeds oop en navrae kan gerig word aan info@paryscraterstreetmile.co.za of besoek die webtuiste www.paryscraterstreetmile.co.za. Jy kan ook (056) 811 4000 skakel.

* Die SA Straatmyl-kampioenskappe word einde Oktober gehou.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button