So help bejaardes ander wat inkomste kry uit herwinning
Dit is ‘n manier om alles skoon te hou, te herwin en om mense die geleentheid te gee om ‘n ekstra geldjie te maak.
Die Sally Martin Park aftreeoord het ‘n manier gevind om herwinning ‘n voordeel vir ander in die gemeenskap te maak.
Die aftreeoord het in Augustus 2018 ‘n herwinningsprojek geloods waarmee hulle vullisdromme vir papier en karton, blik, glas, en
plastiek, op strategiese punte op die terrein geplaas het waar inwoners herwinbare materiaal in die korrekte dromme kon plaas, en dit dan deur ‘n maatskappy verwyder kan word.
Chris Richards, opsigter oor die projek by Sally Martin, sê dinge word nou bietjie anders gedoen.
“Daar is agt punte op die perseel waar ons die dromme plaas. Dit is sodat inwoners nie te ver hoef te loop om van hul vullis ontslae te raak nie. Die inwoners sit dan die vullis wat hulle sorteer het in die dromme soos gemerk.”
Chris verduidelik dat die dromme drie keer per week op Maandae, Woensdae en Vrydae leeg gemaak word en in groter dromme geplaas word.
“Ons het dan ‘n ooreenkoms met haweloses of sakkrappers wat herwinning doen. Hulle kom verwyder die vullis wat reeds uitsorteer is, en vat dit na herwinnings ondernemings.”
Alle betaling wat hulle vir die herwinbare vullis kry, kan hulle hou, sê hy. Hy sê ook dat die mense wat die vullis kom verwyder om dit te verkoop, hulle help om die dromme skoon en netjies te hou. Dit is ‘n manier om alles skoon te hou, te herwin en om mense die geleentheid te gee om ‘n ekstra geldjie te maak.
“So help ons mekaar.”