Local newsNews

Man met die lang vingers vang skole en besighede met slap riem

Hy's vinnig, weet wat hy soek, en voor jy jou oë uitvee is jy ook gevang.

Op pas! Dié meneer is so slim soos die houtjie van die galg, en so skelm soos ‘n jakkals. Skole en besighede is die afgelope twee weke stomgeslaan deur dié man met die lang vingers. Waar hy kom, vat hy selfone en skootrekenaars.
Hy lyk soos ‘n doodgewone kliënt. Doen eers navraag terwyl hy ongemerk kyk wat rondlê, en voor jy weet is meneer met die lang vingers weg met jou goed. Op die sekuriteitskameras van die skole en besighede waar hy was, sien jy hoe hy te werk gaan. Elke keer dieselfde pet en onderbaadjie.

Dieselfde wit Volkswagen met iemand wat in die motor sit en wag.

Twee weke gelede op ‘n Donderdag knap voor 14:00 daag meneer op by Bruyns Equiment – doen navraag oor ‘n part. Dan beweeg hy na die Bosboer Restaurant op dieselfde perseel. Stap in en sekondes later het hy die restaurant se skootrekenaar wat op die toonbank was, gevat en versteek in sy onderbaadjie.

Op die beeldmateriaal sien jy hoe hy begin uitstap, dan lyk dit of hy wil terugdraai en dan hardloop hy uit. Buite die restaurant stap hy weer rustig na die wagtende motor. Groet nog ewe vriendelik die bestuurder van Bruyns Equipment.

Melissa Smith, restaurantbestuurder van die Bosboer, vertel dat van die kelners hom van die beeldmateriaal ge-eien het as die man wat ‘n paar dae tevore ook by die restaurant kom oë wys het om ‘n drankie te bestel.

Van die Bosboer af is meneer skool toe. Dit was net nadat die skool uitgekom het, vertel Hoërskool Parys se skoolhoof Lucien van Zyl. Dié meneer het so ewe by die hoofhek ingekom, aangeteken in die besoekersregister met ‘n vals identiteitsnommer, en soos protokol vereis is hy beduie na die skoolkantoor. Hy is twee maal in en uit by die kantoorblok en het selfs ‘n draai by die mans badkamers gemaak. Met vakadviseurs wat die dag by die skool was, was ‘n besoeker op die terrein nie ongewoon nie.

Op sy pad uit die kantoor onderweg na ‘n vergadering, loop mnr. Van Zyl die meneer toe op die stoep raak en vra of hy kan help. Meneer met die lang vingers vertel hy soek sy kind, waarop die skoolhoof hom vra om na die sekretaresse in die skoolkantoor te gaan sodat hulle dadelik die ‘besorgde ouer’ kan help om die kind op te spoor. Min het mnr. Van Zyl geweet die man by hom het toe reeds een van die onderwysers se skootrekenaar uit haar klas gegaps, toe sy ‘n oomblik uit die klas was, en in sy onderbaadjie versteek.

Verlede Woensdag net voor 14:00 klok meneer in by nog ‘n skool. Doen navraag by die skoolkantoor vir sy kind wat hy by die skool wil inskryf, maar hier kon hy niks vaslê nie. Toe is hy na ‘n kleuterskool – weer dieselfde storie. Doen navraag oor sy vierjarige kind wat hy wil inskryf. Een van die onderwysers het die nodige aansoekvorms gaan haal, en toe sy terugkom met die vorms is die meneer en haar selfoon wat in haar klaskamer was, skoonveld.
Hy het daarna ‘n draai by Parys Bande gaan maak. Op die kringtelevisie beeldmateriaal van die apteek langsaan die bande-onderneming sien jy die motor waarmee hy gekom het, geparkeer voor die apteek. Op ‘n stadium ry die motor en kom dan weer terug.

Op die bande-onderneming se sekuriteitskameras sien jy hoe doen meneer navraag oor bande. Terwyl personeel besig is met sy navraag, loop hy na agter in die vertrek in die rigting van die yskas asof hy koeldrank wil kry, help hom dan ongesiens aan die bystand selfoon op ‘n lessenaar agter die toonbank, en kom staan ewe nonchalant weer by die toonbank, gesels ‘n woord of twee, en gaan dan. Heeltemal op sy gemak.

So was hy by verskeie ondernemings die afgelope twee weke.

Wees maar op die uitkyk vir dié meneer met die lang vingers. Hy’s vinnig, weet wat hy soek, en voor jy jou oë uitvee is jy ook gevang. Ergste is, sê dié wat gevang is – dis nie net die skade van dit wat gevat is nie, maar ‘n leeftyd se herinneringe en inligting op selfone en rekenaars wat dié skurk met hom saamvat. Die slagoffers met wie Gazette gepraat het, het bevestig dat die voorvalle by die polisie gerapporteer is.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button