Local newsNews

So dra jagbedryf by tot bewaring

Baie persepsies oor jag begin op sosiale media. Min word egter gesê oor die bydrae van die jagbedryf veral tot private bewaringsprogramme. Bewaring kos geld, en dit is hier waar die jagbedryf baie inploeg in veral die private sektor.

By verskeie spesies kan reeds ‘n toename in getalle gesien word as ‘n direkte uitvloeisel van die waardetoevoeging wat die jagbedryf tot bewaring maak. Hoewel die staat ongeveer 61% van terrestriele geproklameerde reservate in Suid-Afrika besit, lyk bewaring in baie van hierdie parke nie goed nie, en meer geld van die regering is nodig om te kan fokus op bewaring.

Die private sektor proklameer die meeste nuwe reservate deur die ‘Stewardship’ program, waar erkenning gegee word aan die bewaringsbydra deur die private sektor en gemeenskappe. Navorsing wat in 2016 gedoen is, het gewys dat slegs agt tot 19% van private reservate geen profyt as doelwit het nie. Tot soveel as 81% het bewaring en winsgewendheid as doelwit gehad aangesien bewaringsaksies op een of ander manier gefinansier moet word.

Dit is hier waar verantwoordelike benutting van wild ‘n wesenlike bydrae maak tot bewaring. Inkomste wat uit volhoubare jag gegenereer word, dien byvoorbeeld as aansporing om spesies en hul habitatte te bewaar. Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wilbewaringsvereniging (SAJWV) is in 1949 gestig met bewaring en die bevordering van verantwoordelike jag as doelwitte van die organisasie. Die vereniging met meer as 40 000 lede en 83 takke oor die land se bewese rekord in bewaring bevestig hul ingesteldheid op bewaring. Dit is ook die enigste plaaslike jagorganisasie wat ‘n lid is van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN).

In haar praatjie met lede van die Koepel Bewarea, het Lizanne Nel, bestuurder van bewaring by SAJWV, en gekwalifiseerde ekoloog met baie jare se ondervinding in wild-, biodiversiteits- en omgewingsbestuur, gewys op die feite en fabels as dit kom by jag en bewaring.

Sy het beklemtoon dat verantwoordelike jag kan bydra tot bewaring, en benadruk hoe die konsepte van bewaring en verantwoordelike benutting hand aan hand loop.

Lizanne het openlike en sinvolle gesprekvoering rondom hierdie onderwerpe aangemoedig, en gesê dat dit kan lei tot beter insig, verdraagsaamheid en gedeelde bewaringsuksesse.

Sy sê anders as wat geglo word, word geen wildspesie in Suid-Afrika bedreig deur wettige, gereguleerde jag nie. Onwettige stropery is nie jag nie, en kan ‘n wesenlike impak op spesies se oorlewing hê.

Sedert daar tussen 1959 en 1995 begin is met beheerde jag en ekotoerisme op private grond, het die sektor reeds ‘n groot bydrae gelewer om privaat bewaringspogings te finansier.

Meer as dubbeld die grootte van staatsreservate word deur die privaatsektor bestuur vir wildspesies, en verskeie skaars spesies is so van uitsterwing gered soos onder andere renosters, bontebokke en die Hartmann sebra om ‘n paar te noem.

Wanneer gekyk word na hoe die jagbedryf die bewaring van habitatte befonds, lewer private wild- en gemengde plase ‘n verstommende ekonomiese bydra van meer as R20 miljard. Dit is ook hierdie private wild- en gemengde plase wat tot sowat 20 miljoen stuk wild huisves, en tot 100 000 werksgeleenthede in die land skep.

Ongeveer 50% van private wild- en gemengde plase het jag as ‘n belangrike inkomstebron. Die plaaslike en internasionale jagsektor genereer jaarliks meer as R15 miljard vir die land. Dan word meer as R5 miljard boonop verdien uit geprosesseerde produke, en meer as R1 miljard uit lewendige wildverkope op veilings.

Lizanne het aangedui dat daar geleentheid is om selfs ‘n groter bydra tot die ekonomie te maak uit verantwoordelike jag deur werkskepping en entrepreneurskap ten opsigte van benutting van onder meer velle en bene van diere wat gejag is te benut vir die maak van byvoorbeeld meubels, leerware en aandenkings.

Die leemte hier word uitgewys met statistiek wat daarop dui dat 81,5% van skedels, en 78,6% van die velle van diere wat gejag is, weggegooi word wat eerder kon bydra tot die ekonomiese ontwikkeling in plaaslike gemeenskappe.

Lizanne het naas haar professionale kwalifikasies ook 23 jaar ondervinding by Departement Omgewingsake se biodiversiteits afdeling, en was vergesel van Boetie Kirchner, SAJWV se bestuurder vir jagsake.

Boetie Kirchner,( SAJWV se Bestuurder: Jagsake), Lizanne Nel (SAJWV se Bestuurder: Bewaring) en dr. Biddie Biddulph (voorsitter van die Koepel Bewarea). Agter is Mike Erasmus (ondervoorsitter van die Koepel Bewarea).

In sy boodskap aan Bewarea-lede het die voorsitter van die Bewarea, dr. Biddie Biddulph, genoem dat daar gewerk word aan die dokumentering van die Vredefort Koepel se unieke fauna en flora. Hy het verder gesê dat die Bewarea se bewaringsdoelstellings aansluit by die doelwitte van die SAJWV, en dat die Bewarea sy lede wat jag of jagplase het, aanmoedig om gebalanseerd na jag en bewaring te kyk en toe te pas.

Die aand by Kopjeskraal Country Lodge Boskamp is afgesluit met ‘n gesellige potjie-ete en kuier saam met gasheer Christo Meyer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button