Local newsNews

Dié man wat die skoot laat klap vir die myl

Oor die jare het Nollie nie net atletiek afgerig nie, maar vele atletiekbyeenkomste georganiseer waaronder verskeie SA en PUK byeenkomste.

By die wegspringpunt staan atlete gereed. Hulle wag vir die skoot om te klap. Op die skouers van die man met die afsitterspistool rus ‘n groot taak. Hy moet seker maak almal is geregistreer vir die wegloop, voete agter die lyn – gereed vir die wegspring. Noodhulp in plek.Tydhouers gereed. Tydsberekening perfek vir wanneer die voertuig met die aankondiger en die kameras moet vertrek.

Nollie Meintjies is die man wat vir die derde agtereenvolgende jaar op sy pos sal wees as afsitter vir die Parys Crater Street Mile. ‘n Man wat op sy dag ‘n kranige atleet en afrigter van vele Springbokatlete was in die 800m, 1 500m en 3 000m. Springbokatlete soos Johan Schnetler, Michael en Marietjie McDermott, Cora du Preez, Hans van der Veen en Robert de Villiers het by hom geleer.

Vir dié oudonderwyser van Hoër Volkskool in Potchefstroom was atletiek nog altyd sy passie, en begin sy roemryke atletiekloopbaan op hoërskool. “Ek was té stadig vir die kort afstande op laerskool,” gesels Nollie, “maar op hoërskool het ek agtergekom ek het ‘n lang asem.” Vele hoogtepunte het gevolg, en word hy SA-kampioen in 1982 en 1983 in die 3 000m hindernis-item. Hy breek die SA-rekord in 1983 vir dié item met ‘n tyd van 8:21:72, kort nadat hy sy Springbok-kleure in 1982 verwerf het. Dié rekord is eers sowat 10 jaar gelede gebreek.

Nollie Meiring waar hy met die afsitterspistool reg sal staan wanneer atlete vanjaar hier sal wegspring vir die Parys Crater Street Mile. By hom is Pierre Fourie van Parys Multisport.
Nollie as jong 27-jarige atleet by die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch. DIe foto is in 1983 geneem.

Oor die jare het Nollie nie net atletiek afgerig nie, maar vele atletiekbyeenkomste georganiseer waaronder verskeie SA en PUK byeenkomste.

Deesdae is Nollie ‘n Vredeforter wat in 2023 van Potchefstroom verhuis het waar hy omtrent sy lewe lank gewoon het, om nader aan sy kinders en kleinkinders in Vredefort te wees.

Jare terug toe die eerste informele straatwedloop in Parys in die omgewing van die Hoërskool gehou is, was die 67-jarige Nollie daar om te help, en vanjaar sal jy hom sien by sy afsitterspos in Waterstraat reg by die Eiffel-toring voor die Parys Info-kantoor wanneer atlete op 12 Oktober wegspring vir die Parys Crater Street Mile. Die straatmyl is 1 609m – presies die afstaand van ‘n myl. Dit is ‘n gesertifiseerde roete volgens Wêreld Atletiek, Atletiek Suid-Afrika en Atletiek Vrystaat regulasies, wat beteken dat deelnemende atlete met die straatmyl kan kwalifiseer vir provinsiale, nasionale en internasionale erkenning. Die SA Straatmyl-kampioenskappe is ook nou ‘n nuwe item op Atletiek Suid-Afrika se jaarkalender, en word einde Oktober gehou.

Vanjaar is ‘n aanpassing gemaak in die roete van die Parys Crater Street Mile met die wegspring wat voor die Info-kantoor sal wees, en ‘n draaipunt wat ingebring word by die kruising net na Jimmy Jaggers in Parys se hoofstraat.

Atlete eindig dan weer voor die Info-kantoor waar hulle weggespring het. Dit is ook die eerste jaar dat die straatmyl op ‘n Saterdag gehou word. Dié geleentheid sal na verwagting weer talle bekende atlete na dié gewilde toerismedorp bring. Die eerste wedloop spring weg om 07:00, en die laaste om 09:45. Die Elite-klasse is van die groot hoogtepunte en begin om 09:30. Soos vorige jare is daar groot pryse op die spel.

Dele van die dorp se hoofstraat sal vir die duur van die Straatmyl gesluit wees tussen 05:00 en 11:00.

Die straatmyl word aangebied deur Parys Rotary in samewerking met Parys Info & Tourism. Inskrywings is reeds oop en navrae kan gerig word by info@paryscraterstreetmile.co.za of gaan na die webtuiste www.paryscraterstreetmile.co.za. Jy kan ook die Info-kantoor skakel by (056) 811 4000.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button