Local newsNews

“Wat ek hou van Parys is die lekker mix van mense”

Parys is nie net sommer 'n dorp nie."

Vir baie is sy steeds die nimlike Mollie van die gewilde TV-reeks Mollie & Wors, maar wanneer aktrise Lizz Meiring op ‘n Saterdagoggend aan die soom van die Vaalrivier stalletjie opslaan by Parys se gewilde Hartelusmark, hoor jy haar hart trek punt vir dié dorp se mense.

“Wat ek hou van Parys is die lekker mix van mense,” vertel sy.

“Hier is vreeslik baie kunstige mense – jy voel daardie kreatiwiteit, uniekheid en oorspronklikheid dadelik aan. Parys is nie net sommer ‘n dorp nie.”

Tydens die Covid-pandemie was dit Daniél en Martin van The Place Boutique Guesthouse in Parys wat eerste was om haar met ope arms te verwelkom vir ‘n vertoning toe kunstenaars vir meer as twee jaar ‘n inkomste ontneem is.

Dit is ook by dié einste gastehuis waar sy Saterdagaand weer applous gekry het van by die 70 mense vir haar splinternuwe satiriese slimsnaakse solostuk, Een keer ‘n week is genoeg. ‘n Briljante en komiese vertolking van daardie dinge wat ons irriteer, fassineer, frustreer en inspireer – waarvoor ons net een keer ‘n week voor kans sien. As jy uitgemis het op Saterdag se solo-vertoning, gaan kyk gerus na die rare komedie, Die Van Vuurens vat vlam met Lizz Meiring, Cara Meiring en David Kuduntwane by vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.

Vir Lizz was Saterdag se kuier in Parys nie ‘n eerste of ‘n laaste nie.

Dié formidabele aktrise, teater regisseur, vervaardiger, dramaturg, stemkunstenaar, verhoog- en TV-aanbieder, film- en TV teksskrywer, kopieskrywer, vertaler, fiksie- en jeugromanskrywer, rubriekskrywer, teaterkundige, kreatiewe konsultant, spreker en seremoniemeester, gaslektor, kunste raadgewer en kreatiwiteitsjunkie wat terloops ook ‘n gekwalifiseerde afslaer is, het oor die jare vele kere hier kom verfilm en opgetree.

Sy onthou die dorp se gewilde Rubys-restaurant, en gesels oor kunstenaarvriende wat vroeër hier gebly het.
Sy hou van die rustigheid en die omgewing en alles wat so naby is.

Hoekom die stalletjie by Hartelus, vra jy? Die soethappies wat sy namens iemand by die stalletjie verkoop, help met ‘n inkomste sodat sy haar eie produksies kan skep soos Die Van Vuurens vat vlam waarmee sy weer ander kunstenaars help. Boonop gaan tien persent van die totale stalletjie-verkope na die Teaterbystandfonds waarvan Lizz ‘n bestuurslid is.

Die nimlike Lizz Meiring.

Die Teaterbystandfonds is ‘n unieke geregistreerde openbare welwillendheidsorganisasie wat in 1962 gestig is.

Dit is die enigste hulpfonds van sy soort ter wêreld vir die meer as vyf miljoen mense in die land wat ‘n lewe uit die kunste maak – van hulle wat optree, tot dié wat help met die logistiek, kostuums en admin.

Die fonds gee tans finansiële bystand vir 38 mense in die bedryf wat weens siekte of ouderdom geen ander inkomste het nie, verduidelik Lizz.

Dan word daar ook gehelp met by die 6 000 mediese gevalle ‘n jaar, en by die 300 begrafnisse ‘n jaar. Gratis werkswinkels word ook aangebied vir mense in die bedryf.

Vrywilligers wat betrokke is by die fonds kry geen vergoeding nie, en geld wat vir die fonds ingesamel word gaan direk na die begunstigdes, vertel Lizz met groot dankbaarheid vir die R2 000 wat deur Stonehenge, en R1 000 wat deur die Hartelusmark vir die fonds geskenk is.

Die befaamde aktrise Lizz Meiring by haar stalletjie by Saterdag se Hartelusmark

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button