Local newsNews

Asseblief help ons pa

Gesin se hulpkreet na onbeskryflike tragedie

Die gebeure tydens ‘n veldbrand op 8 Augustus in die Lindequesdrift-omgewing, is vir ewig in die geheue van Johan Beuidenhout en sy gesin ingebrand. ‘n Dag wat sy en sy gesin se lewe onherroeplik verander het.

“Ons pa wat saam met die werker was wat in die veldbrand oorlede is, het nou al die hulp nodig wat hy kan kry,” sê Jurgens en Elize Bezuidenhout.  Dit is vandag bykans ‘n maand na die brand en Johan is steeds in die Netcare Alberton-hospitaal se Trauma Intensiewe Sorgeenheid.

Die gesin vertel dat Johan, wat van Port Elizabeth is, by sy suster-hulle op die plaas, Klokfontein, gekuier het.

Die brand het rondom 12:00 daardie Donderdagmiddag in  die omgewing van die Lindequesdrift-kruising langs die R500 ontstaan,  By die 40 bakkies en sowat 100 mense het verwoed teen die vlamme baklei wat eers rondom 19;00 die aand onder beheer gebring is.

Johan en die werker wat saam  in die bakkie was, is deur die vlammemuur omring, en het die werker gesterf, terwyl Johan ernstige brandwonde oor 40% van sy lyf opgedoen het. Na die tragedie het verskeie ander brande in die Fochville/Parys-omgewing gewoed tot Sondag 11 Augustus en het boere duisende hektaar weiding, voerbale en vee verloor.

Die bakkie waarin Johan en die werker was toe hulle deur die vlamme oorval is. Foto: Verskaf

Vir Johan is dit nog ‘n bitter lang  en uitdagende pad na herstel.

Sedert die insident ontvang hy intensiewe mediese sorg en moes  reeds verskeie veloorplantings kry. Nog operasies lê voor en word sy toestand gekompliseer deur nierprobleme waarvoor hy dialise moet kry.

Daar word nou gepoog om hom van die ventilator af te kry in die hoop om hom sodanig te kan stabiliseer om hom na ‘n ander hospitaal te vervoer vir die gespesialiseerde mediese sorg wat hy nodig het.

‘n Baie lang en uitdagende pad na herstel lê nog voor vir Johan.

Maar dit is nie net die fisiese gesondheidsuitdagings waarmee Johan worstel nie. Daar is die oorweldigende emosionele pyn van ‘n vriend wat Johan met die brand verloor het toe hulle in die vlammemuur vasgekeer was.

En dan is daar die finansiële bekommernis oor Johan se onmiddellike en toekomstige mediese sorg omdat daar nie ‘n mediese fonds is wat die geweldige koste van behandeling, rehabilitering en langtermyn herstel kan dra nie. Sy familie doen alles in hulle vermoë om hom te ondersteun, maar kan nie alleen die geweldige kostes dra nie.

Dit is waarom daar ‘n BackaBuddy-veldtog begin is om Johan te help. Ongeag hoe klein of groot die bedrag – elke bydrae sal help om Johan te help om die behandeling te kry wat hy so desperaat nodig het. Die fondse wat gekry word sal gaan vir sy hospitaalbehandeling, chirurgie wat nog gedoen moet word, en die rehabiliteringsproses vir sy pad na herstel.

Mense se bydraes, maar veral ook gebede in hierdie bitter moeilike tyd sal die wêreld vir ons beteken sê die familie en het hul diepe dank uitgespreek vir die goedheid, hulp en deernis waarmee hulle omvou is sedert die tragedie.

As jy Johan op enige manier kan help volg asseblief die BackaBuddy skakel hieronder.

https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-us-aid-johan-bezuidenhout

Jy kan ook by die skakel hieronder die volledige berig oor die tragedie lees wat in Parys Gazette verskyn het.

https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/2024/08/12/plaasweker-sterf-talle-beseer-in-vlammehel/

Related Articles

Back to top button