Local newsNews

Deeltitels: Maak seker oor wetgewing en regulasies

"Ongelukkig is dit so dat daar nog té veel beheerliggame is wat nie aan die vereistes van die wet voldoen nie," sê Philip Coetzee, bestuursrekenmeester by PF & M Boekhouers en Rekenmeesters.

Deeltitel eenhede in ‘n kompleks bied al vir jare die ideale omstandighede vir mense om in te woon, en ook vir eienaars wat in eiendom wil belê. Daar is egter aspekte van deeltitel eienaarskap wat mense nie aan dink wanneer hulle ‘n deeltitel koop nie. Die afgelope 15 jaar het ondervinding geleer dat daar slaggate kan wees, waarsku Philip Coetzee, bestuursrekenmeester by PF & M Boekhouers en Rekenmeesters.

Die koop van ‘n eenheid in ‘n kompleks:
Met die implementering van die Deeltitelskema Bestuurswet, (8 van 2011, Bylae 8 van hierdie wet), asook die Gemeenskapsdiens Ombudswet, (9 van 2011) het omstandighede by beheerliggame drasties verander. Elke beheerliggaam moet byvoorbeeld twee bankrekeninge hê, en twee stelle boekhouding byhou vir hierdie rekeninge naamlik ‘n bankrekening vir die administratiewe fonds, en ‘n bankrekening vir die reserwefonds.

Daar moet ten minste 25% van die jaarlikse heffings in die reserwefonds wees vir uitsluitlike onkostes aan kapitale instandhouding. Gewone klein instandhoudingskoste word uit die administratiewe fonds betaal. Hierdie wetgewing is daargestel sodat elke eenheid ‘in ‘n goeie staat van herstel onderhou’ word om die waarde daarvan, asook die waarde van die hele kompleks te behou of verbeter word vir potensiële kopers, sê Coetzee.

Hierdie taak is die beheerliggaam se verantwoordelikheid wat uit die aard van die saak veroorsaak dat die heffings van elke eienaar dienooreenkomstig verhoog word, en dat daar elke jaar daarvoor begroot moet word.

“Ongelukkig is dit so dat daar nog té veel beheerliggame is wat nie aan die vereistes van die wet voldoen nie,” sê Coetzee. Die implikasies hiervan is dat ‘n koper ‘n eenheid in ‘n kompleks koop net om binne twee maande uit te vind dat die betrokke beheerliggaam nie finansieël in staat is om die onderhoud aan die kompleks te doen nie.

Coetzee doen ‘n beoep op potensiële kopers om te let op die volgende voordat jy ‘n eenheid in ‘n Deeltitel koop:
1) Vra die agent/verkoper vir die finansiële state van die beheerliggaam voordat jy koop sodat jy jouself kan vergewis dat hulle finansieel gesond is, en daar ‘n behoorlike Reserwefonds gevestig is.

2) Die finansiële state sal jou ‘n idee gee of die boeke en state behoorlik gedoen word in terme van die Voorgeskrewe Bestuursreël (VBR) 26 van die Deeltitelskema. Wees bedag daarop dat daar wel beheerliggame is wat nie vir u finansiële state kan voorlê op aanvraag nie, en dink dan twee keer voordat jy koop.

In die verlede moes die boeke van ‘n beheer-liggaam net geoudit word as daar meer as 10 eenhede was. Nuwe wetgewing het dit verander en elke beheerliggaam se boeke moet nou geoudit word.

Die beheerliggaam se verantwoordelikheid is om die Finansiële Jaarstate op te stel (VBR 26(1)(c); VBR 26(5) en ander. Hierdie jaarstate moet dan saam met die registers en rekords aan die ouditeur oorhandig word vir oudit.

“Daar is talle Beheerliggame wat dit nie doen nie, en slegs die ouditstate tydens die algemene jaarvergadering voorlê wat nie korrek is nie,” waarsku Coetzee.

Sy raad is ook om navraag te doen om vas te stel of daar onmin en aggresiewe gedrag in die kompleks voorkom.
Daar is ongelukkig plekke waar mense koop om af te tree, en dan bitter teleurgestel word deur die gees van onvrede en bakleiery in ‘n kompleks.

Wetgewing vereistes:
Coetzee sê mense moet kennis dra dat elke beheerliggaam by die Kantoor van die Ombud geregistreer moet wees en die opgawes moet gereeld gedoen, ingedien en betaal word. Ombudheffings beloop maar 2% van die bedrag van heffings wat R500 oorskry tot ‘n maksimum van R 40.

Wanneer daar ‘n dispuut tussen eienaar en trustees ontstaan, en ander gevalle, is dit jou reg om by die kantoor van die Ombud so ‘n dispuut te registreer “Dit is waarvoor jy die heffings betaal,” verduidelik Coetzee.

Elke beheerliggaam moet by die Ontvanger van Inkomste geregisteer wees en opgawes moet gereeld ingedien word. “Die banke het al beheerliggame se bankrekenings gevries omdat hulle nie by die Inkomstediens geregistreer is nie. “Hierdie aspek bring bekommernis vir eienaars omdat hul dag tot dag instandhouding en ander verpligtinge nie nagekom kan word as die bankrekening gevries is.”

“Ons kantoor word steeds oorval met navrae ten opsigte van die boekhouding, bogenoemde registrasies en Ombudverwante gevalle. As gevolg hiervan word ‘n weeklange kursus in Oktober aangebied om mense op te lei hoe om die basiese boeke van ‘n beheerliggaam te doen en rakende spesifieke wetgewing.

Indien daar Beheerliggame is wat belangstel om hul eie boekhouer te laat oplei of mense wat as individue dit wil bywoon, is hulle welkom om ons te kontak in hierdie verband. Gedrukte weergawes van die wetgewing sal voorsien word en ingeskrewenes sal aan praktiese boekou oefeninge en state blootgestel word om ñ resultaatgedrewe kursus te voltooi.`

Mense wat navrae het oor die kursus kan Zanicke skakel by 063 400 1632, Angel by 072 333 7995 of Philip by 083 382 7067 of 082 213 2040.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button