Local newsNews

‘Soveel moontlik kinders moet blootgestel word aan orkesmusiek’

Die Noordwes Jeugorkes (NWJO) tree op 6 September vir die eerste keer in 46 jaar in Vredefort op

Die konsert begin 18:30, maar kom gerus ‘n bietjie vroeër om die snoepie te ondersteun of ‘n glasie wyn te geniet.

Omdat die NWJO ‘n jeugorkes is, is dit uiteraard nie die soort konsert waar die gehoor na perfeksie moet soek nie. “Jy gaan dus ‘n kaartjie koop om vir hierdie jongmense ‘n waarderende  gehoor te gee, en om musiekonderrig in ons dorp te ondersteu,” gesels Erna Rademan wat die konsert aanbied.

Erna vertel dat die NWJO eintlik ‘n gemeenskapsorkes is wat bestaan uit studente, kinders en musiekliefhebbers. Charles, die eerste tjellis, is egter ‘n professionele speler.Laerskoolleerders kan die konsert gratis bywoon, sê Erna sodat soveel moontlik kinders blootgestel moet word aan die vreugde van orkesmusiek en die aanleer van ’n instrument.

Erna is ook geweldig opgewonde oor haar musiekskool leerlinge, sowel as ’n paar lede uit die gemeenskap, wat ’n item of twee saam met die orkes gaan uitvoer. Die gehoor gaan selfs betrek word by die orkes, verklap Erna.

Die NWJO spog met twee uitstaande musici as dirigente. André Oosthuizen was ’n leerling by die Drakensberg Seunskoorskool en by Afrikaanse Hoër Seunskool, in Pretoria. Hy het in 2010 sy B.Mus-graad aan die Noordwes-Universiteit voltooi met sang en fluit as hoofinstrumente. Tydens sy studie het hy in die WêreldJeugkoor gesing, en in die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes gespeel.
In 2013 dring André tot die halfeindronde van die Eerste Nasionale Unisa-Blaasinstrumentkompetisie deur.

Na voltooiing van sy B.Mus-graad het André sy aandag op dirigeerkuns begin fokus, en hy is sedert 2013 ’n student van die Nederlandse dirigent Gerben Grooten. Hy het ook talle meestersklasse in dirigeerkuns van onder andere Victor Yampolsky, Daniel Boico, Catherine Larsen-Maquire, Matheu Kieswetter en James E. Ross ontvang.

André Oosthuizen

In 2014 voltooi André sy meestersgraad in fluituitvoering aan die Noordwes-Universiteit onder leiding van proff. John Hinch en Hannes Taljaard. Hy is sedert 2015 assistentdirigent van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes. Hy is ook mededirigent van die Noordwes Jeugorkes, asook die dirigent van die NWU Blaasensemble en NWU Puk-Simfonieorkes.

Liesl van der Merwe is professor aan die Skool vir Musiek van die Noordwes-Universiteit en ’n C2 Nasionale Navorstigting gegradeerde navorser. Haar navorsingsbelangstellings lê in die velde musiek en welstand, Dalcroze Eurhythmics, spiritualiteit, musiekopvoedkunde, positiewe sielkunde en die navorsing van musikale ervaringe.

Liesl van der Merwe.

Liesl het haar D.Mus infagotuitvoering onder leiding van Prof Fanie Jooste in 2010 voltooi. Sy tree aktief op in kamermusiek ensembles en dirigeer die Noordwes Jeugorkes. Sy dien as promotor vir nagraadse studente in kwalitatiewe musiekstudies en bied onderrig aan in navorsingsmetodologie, musiekopvoedkunde en fagot.

Kom geniet ’n heerlike aand van musiek en gemoedelikheid in die pragtige ou klipkerk, wat in die afgelope jare ’n bastion van goeie musiek geword het.

Bring jou kinders, die bure se kinders en jou kleinkinders saam – maak vir hulle die wonderlike wêreld van musiek oop!
Kaartjies vir volwassenes kos R100 per persoon en is by die deur bekikbaar.

Related Articles

Back to top button