Local newsNews

Francois en Elizabeth se Carina trek weer die dansskoene aan

"Waar ek kom in die land sing kinders nog ons liedjies op skoolkonserte. Dit is 'n skatkis van oorspronklike Afrikaanse liedjies en dit maak my geweldig trots," sê Elizabeth.

Francois en Elizabeth Fourie se immergewilde, Wil jy dans Carina wat die sangpaar drie dekades gelede oornag bekendgemaak het, trek nou weer haar spreekwoordelike dansskoene aan, maar dié keer in ‘n refrein van musiekvervaardiger en liedjieskrywer, Danny Smoke, se vars nuwe klanke van sy prettige weergawe getiteld, Carina. Die liedjie is Vrydag vrygestel.

Vir dié sangpaar wat die afgelope 16 jaar in Parys gevestig is, is dit ‘n groot eer 30 jaar nadat hulle die lied wat deur Elizabeth geskryf is, in 1990 opgeneem het. “Die naam wat ‘om lief te hê en te koester’ beteken, het so mooi destyds by die wysie gepas,” gesels Elizabeth.

“Daar is nog so ‘n geweldige passievolle Afrikaanse gehoor daar buite, en nou kan ons die spreekwoordelike stokkie aangee vir ‘n jonger generasie, en vir Carina ‘n nuwe rokkie aantrek. Wie weet – dalk sal dié muurblommetjie nou haar dansskoene vir ‘n jonger generasie aantrek,” sê Elizabeth.

Wat dit ekstra spesiaal maak is dat Danny by die egpaar in Parys kom inloer het om self hulle toestemming te kry om die liedjie te gebruik. Groot was hul vreugde toe hulle die liedjie hoor wat nie die oorspronklike weergawe se unieke betowering namaak nie, maar ‘n heel nuwe aanslag het. Dit was ook ‘n groot verrassing vir Francois en Elizabeth met Select Musiek wat aanvanklik die lied vrygestel het, se digitale uitreiking van die oorspronklike Wil jy dans Carina, op Apple Music, op dieselfde dag wat Danny se Carina vrygestel is.

“Ons kom uit die era van plate en het nooit verwag dat ‘Carina’ oornag so gewild sou word nie. Omdat dit ‘n dansliedjie was wou die Afrikaanse radiodiens destyds nie die liedjie speel nie, maar het Jakaranda Stereo dit op hul speellys geplaas, en vandaar het dit soos ‘n veldbrand versprei,” onthou Elizabeth.

“Dit is goed om aan te beweeg anders verdwyn hierdie kosbare musiekskatte,” sê sy oor die nuwe baadjie wat Carina gekry het.

“Toe ‘n jong mamma by ‘n oggendkonsert op ‘n dag opmerk dat al dié wonderlike kinderliedjies sal verdwyn as daar nie bygebly word met tegnologie nie, het ek geweet die tyd is ook reg om van my gewildste kinderliedjies van vyf vorige CD’s te verpak op ‘n geheuestokkie as 101 Lekker Kinderliedjies. Daardie heerlike lekker luister en saamsing treffers soos Pannekoek bak, Morsjors, Graad een Parrabeen, Dierbare Ouma en Speelgoedlandwat wat baie vreugde vir kinders oor jare gebring het.

Francois en Elizabeth Fourie saam met Danny Smoke waar hy die egpaar in Parys kom besoek het.

Soveel mense het nie meer CD-spelers nie, en maak die geheuestokkie die versameling van haar gunsteling treffers toeganklik vir ‘n nuwe geslag.

Baie van haar treffers is spontaan gebore in die huis om die klavier, saam met die egpaar se twee dogters, Liezl en Minnette. “Hulle was my inspirasie”, en vandag is dit hul kleinkinders wat onder meer die inspirasie was vir Gebed vir kleinkinders, wat volgende jaar met die sangpaar se spesiale toer vrygestel word.

Soos wat die liedjies oor jare uit Elizabeth se pen gebore is, het navrae van Siembamba, en die kinder TV-program Wielie Walie gekom, en het nog treffers gevolg vir “Lekkerliedjieland”. ‘n Hele reeks vol stories en liedjies het die jongspan aan die sing gekry, onthou Elizabeth.

“Die gawe om te kan komponeer kom van my ma af,” gesels Elizabeth. “Van my liedjies is selfs in Engels en verskeie Afrika-tale vertaal,” sê sy verder. Minstens sewe van haar liedjies is ook in die FAK-bundel opgeneem, en die lied, Ek is bly ek ken vir Jesus, is in die Liedboek van die Kerk ingesluit.

“Waar ek kom in die land sing kinders nog ons liedjies op skoolkonserte. Dit is ‘n skatkis van oorspronklike Afrikaanse liedjies en dit maak my geweldig trots,” sê Elizabeth.

Sy koester jare se mooi herinneringe aan optredes saam met kore en kleuters. “So ‘n kinderkonsert is ‘n energieke affêre vertel sy, en voeg by dat ‘n wêreld waarin kinders nie meer hierdie liedjies sal ken nie, byna ondenkbaar is.

“Ons geslag wat uit ‘n vorige eeu kom is huiwerig en onseker oor die internet. Ek het regtig gedink dit is voldoende om van langspeelplaat af na kasset, en van kasset weer na CD toe, aan te pas. Maar dit werk nie so nie, het ek skielik besef.

“Kinders moet kinderliedjies kan sing wat in hul verwysingsraamwerk is. Dinge wat uit hul leefwêreld kom. Kinders wil sing, hulle wil dans en beweeg, en as daar boonop ‘n boodskap in hierdie liedjies is waaruit hulle iets kan leer – des te beter. Daarom moet hulle steeds toegang hê tot hierdie musiekskatte.”

“Kinderliedjies gee daardie emosionele gerusstellende waarde. Hoeveel kindertjies gaan nog bed toe met musiek waarna hulle kan luister?”

Elizabeth se 101 Lekker Kinderliedjies is teen slegs R200 beskikbaar wat rofweg uitwerk op R2 ‘n liedjie, maar die vreugde wat musiek in ‘n kind se lewe bring, se waarde kan nie bereken word nie, sê sy.

Omdat die geheuestokkie nie in winkels beskikbaar is nie, kan lesers Elizabeth WhatsApp op 0825624323, of ‘n epos stuur na elizabeth@efmusiek.co.za Dit is die ideale geskenk ook vir kleinkinders in die buiteland.

Drie lesers kan vandeesweek wen!

Parys Gazette gee vandeesweek vir drie gelukkige lesers die kans om ‘n netjies verpakte geheuestokkie met 101 Lekker Kinderliedjies van Elizabeth Fourie te wen. Dit is so maklik soos om die volgende vraag te antwoord:
Hoewel liedjies is op die geheuestokkie?

WhatsApp jou antwoord na 060 690 7591

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button