Local newsNews

Hande word gevat teen misdaad in Parys

Patrollies waar die gemeenskap help om die oë en ore van die polisie te wees, het al by herhaling gewys hoe suksesvol dit is om misdaad vas te vat met meer sigbaarheid.

Parys GPF en die Parys SAPD doen maandeliks ‘n blou lig/wit lig patrollie wanneer vrywilligers uit die gemeenskap saam met die polisie patrollie ry. Verlede week se blou lig/wit lig patrollie is baie goed ondersteun met talle vrywilligers wat deelgeneem het.
Diefstal, veral ook kabeldiefstal, is steeds ‘n groot bekommernis in Parys, en is die publiek se hulp baie nodig om verdagte bewegings en voertuie te rapporteer.

Daar is beter samewerking van die munisipaliteit gekry met die aanmeld van infrastruktuur-diefstalsake wat kabeldiefstal insluit. Die aanmeld van hierdie klagtes help die polisie om te weet waar probleem-areas is. Geen inligting wat deurgegee word, is ooit waardeloos nie.

By die maand se Gemeenskap Polisiëring Forum vergadering is genoem dat diefstal van bankkaarte ook weer aangemeld word. Vermy kitsbanke na-ure wanneer daar minder sekuriteit is, en moet onder geen omstandighede toelaat dat iemand wat jy nie ken nie, jou help by die kitsbank.

Kuberbedrog neem ook steeds toe, en is talle Parysenaars al met dié slap riem gevang ten spyte van herhaalde waarskuwings. As iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik ‘n slenter.

Jy kan nie net geld oorplaas in ‘n rekening as jy nie die verwysings in ‘n advertensie behoorlik nagegaan het nie, of die produk gesien het nie – veral waar groot bedrae geld ter sprake is. Moet ook nooit persoonlike inligting oor die foon gee nie, nog minder eenmalige sekuriteitskodes (OTPs).

Moenie op skakels in SMS-boodskappe of e-posse klik as jy nie seker gemaak het wat die oorsprong van die boodskap is nie.
As jou huis in die mark is, maak seker dat jou eiendomsagent voornemende kopers vergesel en moenie vreemdes in jou huis toelaat sonder ‘n afspraak nie.

In ‘n onlangse voorval in Parys is R50 000 se juwele gesteel toe kwansuise huiskopers hulself aan die juwele gehelp het terwyl die huiseienaar se aandag afgetrek is met een van die verdagtes wat gevra het om die badkamer te gebruik.

Related Articles

Back to top button