Local newsNews

Liebenbergmoorde: ‘n Tragedie wat onthou sal word

Verkeerde besluit wat lei tot tragedie

“Teen dagbreek besluit Barend Liebenberg om tog maar na Stephanus Erasmus se dringende waarskuwing wat hy in die nag kom gee het, te luister. Hy maak almal wakker met die opdrag om die osse bymekaar te maak, in te span en om die waens terug te neem na die kamp by die drif. Almal skarrel om vinnig klaar te maak.”

“Net toe is daar ‘n skielike, eienaardige lae sisgeluid. Almal staan doodstil en kyk na die rantjie se kant toe.”

“Pieter kyk ook, maar hy kan nie presies uitmaak wat hy daar sien nie. Dit lyk of daar ‘n ry groot bleek klippe op die rantjie staan en bokant hulle wuif iets in die wind.”

Toe word die sisgeluid harder en die klippe begin beweeg. Nou eers sien hy dat dit skildvelle van beesvel is en dat dit die oorlogspluime van die krygsmanne is wat so in die wind beweeg…”

So beskryf Jenny Seed in die Onbekende Land Jeugverhaal die tragiese gebeure so kort voor die Slag van Vegkop, wat gelei het tot die Lienbenberg-moorde en -ontvoerings wat op 23 Augustus 1836  net buite Parys  afgespeel het.

Die gebeure is die naweek herdenk tydens ‘n Erfenistoer wat deur die Parys Kultuurnetwerk aangebied is. Die dag was gevul met aktiwiteite wat daarop gemik was om deelnemers meer te vertel van die ryk kulturele geskiedenis van dié streek.

Die toer het begin by die Vrystaatse Kultuurtuiste, Udolpho net buite Parys, waarvandaan daar na Liebenbergkoppie beweeg is vir ‘n kranslegging, en uitbeelding van die Slag van Vegkop  Die opvoering, wat die aandag van baie kinders getrek het, het die dapperheid van Barend Liebenberg uitgebeeld. Ten spyte van waarskuwings om na die veiligheid van die kampe by Kopjeskraal te verhuis, het Liebenberg se besluit om te bly gelei tot die verwoestende verlies van sy gesin, asook die families van Du Toit en Meester McDonald.

Tydens Saterdag se toer is ook erkenning gegee aan twee lede van die Vaal Kultuurnetwerk, Jaco Jansen en Alta du Plooy, vir hul toewyding tot erfenisbewaring.

Die toergroep is daarna na die die Plaas Kopjeskraal – ‘n terrein van historiese betekenis waar die trekkers volgens oorlewering begrawe is. Hierdie terrein dra diep spore van die Anglo-Boereoorlog, veral dié wat verband hou met generaals
De Wet en De La Rey.

Nadat die groep Kopjeskraal verken het, het die groep die Vredefort-koppies besoek, ‘n terrein ryk aan ‘n verskeidenheid van historiese elemente. Die hergebruik van die Tswana-nedersetting deur die Britte tydens hul agtervolging van generaal De Wet op hierdie terrein was besonder noemenswaardig, en het die deelnemers se belangstelling geboei.

Die dag is by Udolpho afgesluit met ‘n braai. Deelnemers het ook onder die sterrehemel  ‘n veldfliek geniet met die film, ‘Die Rebel’ wat gewys is – ‘n boeiende narratief met oorlogsintriges.

‘n Besoek aan die Udolpho-museum het verder bygedra tot die dag se erfeniservaring.

Jan-Danie Malan, Kultuurorganiseerder Sentraal, het die belangrikheid van sulke kultuurgeleenthede vir die oordra van erfenis aan toekomstige geslagte beklemtoon. “Sonder erfenis is Suid-Afrika net nog ‘n land. Ons moet waaksaam bly om ons kulturele nalatenskap te bewaar,” het hy gesê.

Die FAK sê dankie aan mnr. Tolmay, mnr. Durand en mnr. Pieterse vir die vergunning vir toegang tot hul grond vir die punte wat met die toer besoek is, en bystand wat verleen is.

Spesiale dank ook aan Jaundré Jacobs vir die treffende “Red” gebed wat by Liebenbergkoppie gesing is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button