Local newsNews

Broer sterf in tragiese ontploffing

Die monument is op 'n plaas waar toestemming en toegang vooraf gereël moet word.

Toegemessel tussen klip langs die R59 tussen Parys en Vredefort, lê die verhaal van Frans Jooste. ‘n Monument vir ‘n man wat hier met sy lewe geboet het toe ‘n ontploffing sy liggaam aan stukke geruk het.Die tragedie het hom afgespeel in die Anglo Boere-oorlog –  op 26 Augustus 1900. Die geveg by Frederikstad was net verby. Christiaan de Wet en genl Philip Botha keer terug na die Vrystaat net om te sien dat al die driwwe geblokkeer is deur die Britte. Naby Parys op die plaas Witbank kry hulle dit tog reg om die Vaalrivier te kruis, maar loop hulle suid van Parys vas in hewige vuur van die Britte.

By die Boere is ‘n wa met vier bokse vol dinamiet onder beheer van die broers, Hans en Frans Jooste van die Bethlehem-distrik. Die wa beweeg stadig en trek die meeste van die Britse vuur, maar naby ‘n koppie besef die broers die wa is ‘n teiken. Hulle vlug en hardloop vir hul lewens.

Vyftig meter van die wa draai Frans terug om sy baadjie op die wa te gaan haal- ‘n kosbare noodsaaklikheid in die Hoëveldse winter.

Dit is toe dat die wa vol getref word.

Die Frans Jooste-monument wat deur die Voortrekkers van Parys in 1974 opgerig is. Foto: Gys Ströh.

Frans sterf op slag – net sy een hand en ‘n deel van sy voet is herkenbaar. Een van die osse wat die wa getrek het, is ook op slag dood, en ‘n ander erg beseer wat op loop sit met stukke oorblyfsels van die wa. Die res van die 16 osse hardloop weg en is later op ‘n naburige plaas gevind. Die oorverdowende slag is tot by Liebenbergskoppie gehoor

Frans Jooste se oorblyfsels word begrawe in die krater wat die ontploffing gelaat het. Hier waar die monument vandag staan.
Twee maande later is Hans Jooste gevange geneem en na St Helena verban. Na die oorlog keer hy terug na Bethlehem.

Vier en sewentig jaar na die tragedie kom ‘n spannetjie Voortrekkers van Parys en rig saam met hul offisier, Ben Nel, die monument op ter ere aan Frans Jooste Een vir een het die 12-jarige seuns klippe van die koppe af gedra om die monument te bou.

Die klippe was deel van ń ou Matabele kraal wat steeds  sigbaar is. Die seuns het daar uitgekamp terwyl hulle besig was met die bouwerk, en op 26 Oktober 1974 onthul Die Voortrekkers die monument.

Die monument is op ‘n plaas waar toestemming en toegang vooraf gereël moet word. Besoeke kan met Jan-Danie Malan van die FAK Udolpho Kultuurplaas gereël word.

Lees ook https://monument-sa.co.za/frans-jooste-monument-ammunisiewa-ontplof-tussen-vredefort-en-parys/
Bron: Boer en Brit. Parys Info. Parys Museum.
Fotos: Februarie 2019. Dankie Gysbertus Johannes Ströh, Monumentjagter.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button