Local newsNews

Merkwaardige groei vir Rotary Parys

Jacques Venter, die vorige distriksgoewerneur vir Distrik 9370 het vroeër tydens ‘n besoek aan die klub gesê: “Dit is lekker as jy sien hoeveel mense in Parys se lewens positief geraak word deur die werk wat Rotary hier doen.”

Vyf jeuglede sal voortaan deel wees van die plaaslike Rotaryklub – ‘n eerste vir Parys. Die jeuglede asook volwasse lede en
‘n vriend van Rotary is Saterdag tydens ‘n spoggeleentheid ingehuldig.

Die klub het nou 20 lede en drie vriende van Rotary.

Die nuwe lede is Anne Koekemoer, Armand Koekemoer, Lizette Combrink, Johan Combrink, Werda Visser, Chané Grimbeek, Willem Viviers, Leon Kruger, en Jaques Prinsloo, met Eduan Swanepoel, Lian Combrink, Hanco Combrink, Leane Grobler en Ivan Grobler as jeuglede. Die klub se vriende van Rotary is Jane Kruger en Herriet Mommsen.

Klubpresident Sandra Uys sê die klub het die afgelope jaar ‘n honderd persent groei gehad, van ‘n klub wat feitlik tot niet was tot
‘n klub wat vandag uitstaan as een van die suksesverhale van Rotary in Distrik 9370, waarvan Parys deel is.

Jacques Venter, die vorige distriksgoewerneur vir Distrik 9370 het vroeër tydens ‘n besoek aan die klub gesê: “Dit is lekker as jy sien hoeveel mense in Parys se lewens positief geraak word deur die werk wat Rotary hier doen.”

Rotary Parys bied op 12 Oktober sy gewilde straatmyl in die dorp aan wat bekendes in atletiekkringe jaarliks na dié toerismedorp se hoofstraat lok.

Vanjaar is die eerste keer dat die straatmyl op ‘n Saterdag gehou sal word.

‘n Deel van die fondse wat met die straatmyl ingesamel word, sal gaan vir befondsing van die vrywilliger nooddiens, Community Care waarmee Rotary poog om ‘n opgeleide paramedikus 24/7 in die dorp beskikbaar te hê.

Daar is reeds ‘n skenking vir ‘n voertuig vir die diens gekry.

Rotary gee ook erkenning aan verskeie mense en instansies in die dorp, en is daar op Mandela Dag uitgereik na die Parys Distrik hospitaal met omgee-pakkies vir pasiënte asook babakomberse. ‘n Sertifikaat van erkenning sal eersdaags deur Rotary Parys aan die Parys Distrik Hospitaal personeellede oorhandig word.

Daar word ook nou saamgewerk met Vrystaat Versorging in Aksie (VVA), die plaaslike epilepsie sentrum en tehuise vir bejaardes om te help waar nood is.

Maak seker jy maak ook nou reeds ‘n nota van die familie gesondheidsdag op 7 September wat vanjaar weer deur Rotary Parys in samewerking met verskeie rolspelers by die Hervormde Kerk se MiniMark aangebied word. Behalwe vir die mobiele bloed-skenkkliniek sal daar ook die volgende wees: Body Lab oefeninge; die span van Kragapie Gimnasium is daar; daar sal CPR demonstrasies wees waar jong Voortrekkerlede hul sertifikate kan verwerf; bloeddruk- en suikertoetse deur The Local Choice Pharmacy; oogtoetse deur Specsavers; bewusmaking van epilepsie deur Epilepsie SA; Angels wat kom gesels oor beroerte bewusmaking en hul spesiale program vir kinders; bekendstelling van die geestesgesondheidstoepassing; die hoof uitvoerende beampte en senior personeel van Parys Distrikshospitaal wat hulself aan die publiek kom voorstel en die hospitaal se dienste bekend sal stel aan die publiek. ‘n Mobiele tandheelkundige kliniek sal ook op die dag by die perseel wees.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button